Britse rocker eerste keer op pad na SA

Showtime Management, wat verantwoordelik is vir van die grootste teateruitvoerings in Suid-Afrika, het Dinsdag aangekondig dat James Morrison vroeg volgende jaar die heel eerste keer in Suid-Afrika sal optree.

Dié Britse sanger en liedjieskrywer sal op 22 en 23 Januarie in Johannesburg by die Montecasino Teatro te sien wees en op 26 Januarie by die Kirstenbosch Botaniese Tuin in Kaapstad.

“Ek is baie opgewonde om in Suid-Afrika te toer vir ʼn paar konserte vroeg volgende jaar,” het die ‘You Give Me Something’-sanger gesê. “Dit sal die eerste keer wees dat ek in Suid-Afrika optree en dit is ook my eerste vertonings in ʼn lang tyd. Ek kan nie wag om eers in Johannesburg en dan in Kaapstad, met die berg in die agtergrond, te speel nie.”

Morrison word vergelyk met van die gewildste internasionale sangers, soos Sam Smith, Ed Sheeran, George Ezra en James Bay.

Treffers soos ‘Wonderful World’ en ‘Broken Strings’ saam met Nelly Furtado is uit dié talentvolle musikant se pen. Hy het in 2007 op 21-jarige ouderdom sy eerste Brit-toekenning vir beste manskunstenaar gewen vir sy debuutalbum Undiscovered.

Die 34-jarige musikant het meer as 4,5 miljoen kopieë van sy drie albums verkoop. Hy het ook vier wêreldtoere voltooi en saam met Bruce Springsteen en Stevie Wonder in die Londense Hyde Park opgetree. Hy het ook op Herby Hancock se Grammy-bekroonde album The Imagination Project gesing.

Morrison se jongste album word vroeg volgende jaar uitgereik. Dié album verken verhoudings, ouerskap en familie, en hy deel sy goeie én slegte ervarings.

Kaartjies vir Morrison se konserte in Johannesburg is beskikbaar by Computicket, en kaartjies vir die vertoning in Kaapstad by Webtickets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nick Oosthuizen ·

O hel boeta!! Jy beter wegbly hier die lek is vrot van misdaad.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.