Brooklyn-teater begroet bittersoet seisoen weens Covid-19-pandemie

Die ouditorium van die Brooklyn-teater (Foto: Brooklyn Theatre/Facebook)

Die Brooklyn-teater in Pretoria het vandeesweek aangekondig dat hy die gebou in Menlopark gaan ontruim. Die hoofrede hiervoor is omdat lewende optredes nie mag plaasvind nie weens Covid-19. Dit is egter nié die einde van hul klassieke musiekbydrae tot die vermaaklikheidswêreld nie.

“Ons is dankbaar vir elke gehoorlid, musiekliefhebber en besoeker se volgehoue ondersteuning,” sê Jean-Pierre Verster, een van die Brooklyn-teater se direkteure. “Ons maak staat op dié voortgesette samewerking, ongeag wat die toekoms mag inhou.”

Maroela Media het vroeër berig dat die Brooklyn-teater vanjaar sy tiende bestaansjaar gevier het met die bekendstelling van ʼn nuwe webwerf en aanlyn platform wat gehore onder meer toegang bied tot produksies, bladmusiek en musieklesse.

Dit is in vele opsigte ʼn bittersoet seisoen vir die Brooklyn-teater wat die afgelope dekade ʼn keur van klassieke musiek en uitnemende produksies vervaardig en aangebied het.

Konserte sal voortaan op Brooklyntheatre.tv beskikbaar wees.

“Wanneer die afsonderingsregulasies ons toelaat om weer opvoerings te kan uitvoer, en sodanige aanbiedings lewensvatbaar is, sal ons elders konserte aanbied,” bevestig Verster.

“Dit sal soos Salon Music se vertonings vroeëre jare aangebied word deur van ʼn verskeidenheid lokale gebruik te maak,” verduidelik hy.

Die Gauteng Filharmoniese Orkes, ’n niewinsgewende organisasie, is ook nie aan ʼn bepaalde lokaal gebonde nie en sal uitvoerings hervat sodra afsonderingsregulasies dit toelaat.

Salon Music en die Brooklyn-teater het besluit om terug te ploeg in die gemeenskap deur uitgesoekte voorraad en winkelrakke aan Helpende Hand se Pretoria-Oos-tak en Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) te skenk (Foto: Verskaf)

Buiten virtuele konsertaanbiedings sal die webwerf ook ingespan word vir digitale musiek en albumverkope, wat onder andere Salon Music se versameling albums en opnames insluit.

Salon Music, ʼn onafhanklike onderneming wat in 1994 tot stand gekom het, het pas aangekondig dat sy musiekwinkel ná 17 jaar sluit.

“Musiekhandelaars wêreldwyd is genoop om toe te maak weens die feit dat musiek aanlyn beskikbaar is en daarom was dié sluiting onvermydelik,” sê Verster.

Ondersteuners sal dié winkel onthou vir sy gespesialiseerde versameling klassieke albums, DVD’s, kunsflieks en wêreldmusiek. Dit was ook die kaartjiekantoor vir Brooklyn-teater se konserte.

Salon Music het daarin geslaag om deurentyd ʼn hoë gehalte klassieke vermaak aan Suid-Afrikaanse gehore te bied. Hoewel die onderneming sy musiekwinkel toegemaak het, blyk die toekoms rooskleurig te wees.

“Die winkel is net één van Salon Music se pilare,” verduidelik Verster. “Opnames en vervaardiging van musiek en produksies gaan steeds voort.”

Dit is egter nie altyd moontlik om soomloos voort te gaan wanneer die winde van verandering waai nie.

Verster sê dit is vir hom swaar om te dink dat Musicula, wat die kindervermaak by die Brooklyn-teater hanteer het, so erg hierdeur geraak word.

“Magdaleen [Lamey] se bydrae tot kinders se musikale ontwikkeling is ongeëwenaard,” sê hy. “Sy het deurgaans gewerk om kinders betrokke te kry by teaterervarings en om opvoerings te laat meemaak. Dit is veral haar moeite om musiek meer interaktief vir kinders aan te bied, wat uitstaan.”

Musicula is ʼn opvoedkundige musiekontwikkelingsprogram vir kinders van ses maande tot sewe jaar. Die program en weeklikse sessies fokus op ontwikkeling  van sang, spraak, ritmiese en vrye beweging, instrumentale spel en nootwaarde, asook skryf, lees en interpretasie van musiek.

Brooklyn-teater het die afgelope vyf jaar in samewerking met Musicula ʼn groot verskeidenheid geleenthede aangebied wat kinders en ouers kon bywoon. Dit het klassieke musiek, operas, kamermusiek en musiekblyspele ingesluit.

Salon Music en die Brooklyn-teater het besluit om terug te ploeg in die gemeenskap deur uitgesoekte voorraad en winkelrakke aan Helpende Hand se Pretoria-Oos-tak en Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) te skenk (Foto: Verskaf)

In die lig van die bogenoemde het Salon Music en die Brooklyn-teater besluit om terug te ploeg in die gemeenskap deur uitgesoekte voorraad en winkelrakke aan Helpende Hand se Pretoria-Oos-tak, Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Afrikaanse Hoër Seunskool te skenk.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het Salon Music en Brooklyn-teater vir die ruimhartige skenking bedank.

“Ons besef dit is ’n onderneming wat die afgelope 17 jaar ’n bestaan uit kuns en kultuur gemaak het, en diep spore in aanhangers se harte gelaat het. Ons besef ook dat kulturele armoede tans ’n groot probleem in ons samelewing is.

“Helpende Hand ontvang dié skenking met dank en hartseer. Ons is dankbaar dat Salon Music dié skat van kulturele eiendom aan ons toevertrou. Daarmee gaan ons beslis ’n verskil kan maak om kulturele armoede te verlig.”

Noëth sê hulle betreur ook die einde van ʼn era.

“Ons is hartseer dat die winkel en die teater die gebou ontruim. Die ligpunt is dat Brooklyn-teater reeds ’n nuwe geleentheid in plek het om die teater, winkel en konserte op ’n digitale vlak te laat voortbestaan. Nou kan hulle nog ’n groter voetspoor wêreldwyd laat. Ons moedig die publiek aan om die aanlyn teater te ondersteun,” sê Noëth.

Daar is ook ’n skenking van 300 Pieter en die wolf-DVD’s en ander musiekprodukte aan SOS gemaak.

Afrikaanse Hoër Seunskool, die alma mater van die befaamde Suid-Afrikaanse konsertpianis Ben Schoeman, het 200 DVD’s ontvang van Schoeman se triomfantelike oorwinning tydens Unisa se Nasionale Klavierkompetisie in 2008.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmarie ·

Die is baie erg vir ons . Die jaarlikse kerskonsert is ‘n instelling vir ons. Al die wonderlike uitvoerings wat ons deur die jare bygewoon het… Baie, baie hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.