Brooklyn-teater hou inperkingsmusiekfees

Die Brooklyn-teater hou elke Sondagmiddag om 17:00 ʼn inperkingsmusiekfees wat uit ʼn keur van klassieke uitvoerings bestaan. Kykers kan op Facebook en YouTube vir dié konserte inskakel.

“Enige instrument of ensemble is welkom,” vertel Jean-Pierre Verster, een van die Brooklyn-teater se direkteurs. “Dit beteken dat sang, sowel as kitaar-, klavier- en fluit-uitvoerings oorweeg word.” Die gebruik van klankbane (backtracks) word tydens die afsonderingstydperk toegelaat.

Verster verduidelik dat konserte saamgestel word uit video-inskrywings wat die week voor die tyd deur ʼn paneel goedgekeur is. Die inskrywings word dan saamgevoeg en geredigeer.

Die publiek kry weekliks die geleentheid om kunstenaars se bydraes tydens die uitsending om 17:00 te beoordeel, sê Verster. Hoewel die konsert gratis is, word uitvoerings beoordeel op grond van die hoeveelheid donasies wat ontvang is.

“Die publiek kan vir hul gunstelingvideo stem deur ʼn donasie vir die spesifieke video te maak,” verduidelik Verster. Elke uitvoering het ʼn skakel en foto op die teater se webwerf. Die video wat die meeste donasies ontvang het, word as die wenner aangewys.

“Prysgeld, wat deur middel van die stemproses ingesamel is, word pro rata aan alle deelnemers betaal,” bevestig Verster. Die wenners word op Vrydae om 19:00 aangekondig.

Die Brooklyn-teater beplan om ná die afsonderingstyd ’n konsert te reël waar die wenners gaan optree, verklap Verster.

Hier is die derde episode van die reeks wat verlede week uitgesaai is:

Vir meer inligting oor hoe om in te skryf stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.