Brooklyn-teater vier 10de verjaardag met nuwe webwerf

Die ouditorium van die Brooklyn-teater (Foto: Brooklyn Theatre/Facebook)

Die Brooklyn-teater in Pretoria bied vir die afgelope dekade ʼn keur van klassieke musiek en uitnemende produksies. Dié mylpaal word gevier met die bekendstelling van ʼn nuwe webwerf wat gehore onder meer toegang bied tot produksies, bladmusiek en musieklesse.

“Daar heers groot opgewondenheid oor dié nuweling,” vertel Jean-Pierre Verster, een van die Brooklyn-teater se direkteurs.

“Ondersteuners kan nou in die gemak van hul woonkamers na al ons oorspronklike en opwindende konserte kyk.” Verster voeg by dat die inhoud op enige tablet, rekenaar, slimfoon of televisie gekyk kan word.

Gebruikers het die opsie om maandeliks ʼn bedrag te betaal wat beteken dat hulle toegang tot alle materiaal op die webwerf het. Daar is ook die opsie om ʼn produk vir 72 uur te huur.

“Produkte sal nie afgelaai kan word nie om diefstal te voorkom en die gebruik van inligting sal noukeurig geënkripteer en geberg word,” verduidelik Verster. Hy verseker gebruikers dat die webwerf deur ʼn betroubare maatskappy ontwerp is en dat betalings vertroulik hanteer sal word.

Die webwerf word in drie fases bekendgestel.

“Tydens die eerste fase word konserte beskikbaar gestel,” sê Verster. Daarna sal kykers toegang kry tot musiek en videomateriaal, Musicula-klasse deur Magdaleen Lamey en interaktiewe praatjies deur prof. Nola Dippenaar. PS Delicious Delicatessen se etes en ander produkte kan ook dan van die webwerf af bestel word.

Willem Vogel se bladmusiek word in die laaste fase te koop aangebied.

“Dit is ʼn baie spesiale gevoel, maar daar rus  ʼn geweldige verantwoordelikheid op ons skouers om die webwerf aan die gang te hou,” vertel Vogel.

“Ons moes ʼn kopskuif maak,” sê hy. “Klassieke musiek is beslis nog nie dood nie en met die nuwe webwerf slaan ons ʼn nuwe koers in.”

Vogel vertel dat verskeie plaaslike en internasionale kunstenaars ingestem het om hul materiaal beskikbaar te stel.

Die Brooklyn-teater hou elke Sondagmiddag om 17:00 ʼn inperkingsmusiekfees wat uit ʼn keur van klassieke uitvoerings bestaan. Kykers kan op Facebook en YouTube vir dié konserte inskakel (Foto: Verskaf)

Die Brooklyn-teater het oor die afgelope tien jaar wêreldwyd erkenning ontvang en verskeie nagraadse studies is gedoen oor die teater se bydrae tot klassieke musiek in Suid-Afrika.

“Dit behoort ons ondersteuners ʼn aanduiding te gee van hoe uniek die pogings van die Brooklyn-teater internasionaal beskou word,” sê Verster.

Verster meen dit behoort genoeg rede vir gehore te wees om die teater te ondersteun en goedgesind teenoor die kunste te wees.

“Ons wil musiek- en kunsliefhebbers aanmoedig om die nuwe webwerf te besoek en as ʼn lid te registreer. So kan ons voortbestaan en kunstenaars help om te oorleef.”

Die Brooklyn-teater se nuwe webwerf sal later vandag vir die publiek oopgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.