Bryan Adams kom sing in SA

Bryan Adams (Foto: Mickey Bernal/Getty Images/AFP)

ʼn Heerlike brokkie goeie nuus, so op ʼn Maandagoggend, is Big Concerts se aankondiging dat Bryan Adams in November vanjaar in Suid-Afrika kom optree.

Adams het reeds meer as 75 miljoen albums en meer as 100 miljoen plate en enkelsnitte wêreldwyd verkoop. Hy het al op verskeie kontinente en letterlik voor miljoene aanhangers opgetree.

Dié Kanadese sanger-liedjieskrywer is bekend vir saamsingtreffers soos “Summer Of ’69”, “Heaven”, “Everything I Do, I Do It for You”, “Run To You”, “Please Forgive Me” en “Have You Ever Really Loved a Woman?”

Volgens Big Concerts is sy konserte wat in November in Suid-Afrika plaasvind, deel van ʼn wêreldtoer om sy 15de album, So Happy It Hurts, te bemark.

Adams het in Oktober 2021 die titelsnit bekendgestel, en die album is in Maart 2022 amptelik uitgereik. Sy enkelsnit, “So Happy It Hurts”, is in 2023 vir ʼn Grammy-toekenning in die kategorie vir beste rockuitvoering benoem.

Hy het op 15 die eerste keer by ʼn musiekgroep aangesluit en op 20 sy debuut-soloalbum, Bryan Adams, uitgereik. Sy liedjieskryfvernuf het sedertdien talle toekennings en eerbewyse aan hom besorg.

Dit sluit onder meer drie Oscar-benoemings, vyf Golden Globe-benoemings, 15 Grammy-benoemings, asook ʼn Grammy-toekenning en 20 Juno-toekennings in.

Adams sal op 7 November in Kaapstad by die Grand Arena, GrandWest in Kaapstad, en op 10 November by die SunBet Arena, Time Square in Pretoria, te sien wees.

Kaartjies kan vanaf Vrydag 21 April om 09:00 by Ticketmaster gekoop word. Discovery Bank se vooraf-verkope begin op Woensdag 19 April om 09:00.

Kyk hier na ʼn video as lusmaker vir dié konsert:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Bryan is my man – sy een liedjie het my troue se onthaal oopgemaak in die 90’s. Sal hou daarvan om hom in lewende lywe te sien – maar dan moet die kaartjie pryse asb. net nie R2000 wees nie.

Jax ·

Toe ek die opskrif Sien, het ek sommer geweet dit Sal weer net erens in Gauteng en in die Kaap wees. Die res van die land tel nie. Regtig nou moeg daarvoor dat net die twee provinsies uitgekies word. Dis dieselfde met al die ander uitstallings en produksies betref. Net daai twee provinsies trek voordeel – ons ander trek die after speen (dis te sê as ons hoegenaamd n speen kry)

Knorknaap ·

Ek’t die ou lank terug in die Dome gesien sing. Hulle kon net sowel ‘n winkelpop op die verhoog opgedra het. Niks het gebeur nie. Koop eerder sy CD (as daar nog so iets is).

Patch ·

Ek is nog altyd mal oor sy musiek! Ek en my man sal ‘n “date night” moet hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.