Burgerd en Zita

Burgerd en ZitaVroeër vanjaar het die mansanggroep Romanz besluit om te ontbind, en elke lid van dié groep het sedertdien sy eie projek van stapel gestuur.
Adam Barnard en Louis Loock het al suksesvolle solo-albums vrygestel, terwyl André Venter die aanbieder van die musiekprogram Jan op kykNet geword het en ook aan ‘n solo-album werk.
Die ander lid van die groep, Burgerd Botha, het egter besluit om iets anders te doen. Hy is getroud met Zita Pretorius, wat ook al ‘n CD saam met Rudi Claase opgeneem het en hulle het onlangs hul gelyknamige duetalbum vrygestel. Die eerste snit, Soet en suur, is hul eie komposisie, en enigiemand wat in ‘n langtermynverhouding of huwelik is, sal hulle met die woorde kan vereenselwig. Die eerste treffersnit vanaf die album is Jy is my rede, wat hulle ook saam geskryf het. Die volgende snit op die album, Vir ons albei, is miskien op ‘n meer uitgelese gehoor gemik, maar hierop kom ‘n mens agter dat daar geen twyfel oor hul musiektalent kan bestaan nie. Albei van hulle lewer ook ‘n paar solo-albums op die album, en Burgerd se eerste een is Philip Moolman se treffer Hoog bo die wolke. Burgerd en Zita het die Afrikaanse woorde vir In liefde toegevou geskryf. Waarom is oorspronklik deur Sias Reinecke en Joanna Field gesing en Herman Holtzhausen van Trans-Karoo-faam het dit saam met Zane Cronjé geskryf. Dis wonderlik dat hulle besluit het om dit op te neem; hopelik sal dit een van die treffers vanaf die album wees. Zita se eerste solo-bydrae is ‘n pragtige opname van Simon and Garfunkel se treffer Scarborough fair. Fleurs du mal is ‘n pragtige snit wat in Engels gesing word ten spyte van die Franse titel en veral Zita stel haar vokale vermoëns hier baie goed ten toon. Diegene wat van ‘n meer klassieke klank hou, sal mal wees oor hierdie snit! Neem jou daar is nog ‘n snit wat Zita alleen sing, en weer eens is dit ‘n pragtige snit. Burgerd en Zita het die Afrikaanse woorde vir die volgende snit, Duisend tale, geskryf, en dit is dalk die enigste snit wat dalk as effe sentimenteel beskou kan word. ‘n Nuwe dag is die laaste snit wat Zita alleen sing. Liefde uit die hemel blou is die snit wat tot die opname van die duetalbum gelei het. Zita sou ‘n solo-album opgeneem het, maar nadat hulle dit op hul troudag gesing het, het hulle besluit om dit ‘n volwaardige duetalbum te maak. Daar is ‘n groot verrassing op die album; hulle het besluit om Seal se groot treffer Kiss from a rose in te sluit, en hul opname daarvan is uitstekend. Die laaste duet op die album is I believe, maar dit is nie die bekende een wat deur Frankie Laine gewild gemaak is nie. Die laaste snit is nog ‘n verrassing; Burgerd het Life is a highway, wat oospronklik ‘n treffer vir Tom Cochrane was, opgeneem. Engiemand wat die rolprent Cars onthou, sal dit herken.
As ‘n mens Burgerd en Zita se musikale agtergronde in aanmerking neem (Burgerd is ‘n tenoor en Zita ‘n sopraan, en albei is sekerlik klassiek opgelei), sou ‘n mens dink dat hulle dalk ‘n klassieke album sou opneem, maar gelukkig het hulle dit nie gedoen nie. Hulle wys op hiedie album dat hulle oorspronklike- en bestaande liedjies ewe goed kan sing, en dat hulle gemaklik in feltilik enige musiekgenre is. Daar is iets vir elke musieksmaak en ouderdom en daarom kan hierdie album baie sterk aanbevel word!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.