Candy Benson het ʼn nuwe uitkyk op die lewe

Candy Benson. Foto: Verskaf

Candy Benson. Foto: Verskaf

Die sanger Candy Benson het vertel die verkeerdelike diagnose van Crohn se siekte by haar vroeër verlede jaar het haar geïnspireer om met ʼn hernude blik na die lewe te kyk.

Benson sê sy wil met haar nuwe musiek ʼn boodskap van hoop gee ná sy onlangs vasgestel het sy het nie Crohn se siekte nie.

“Ek het vir ʼn groot deel van laas jaar en vanjaar geglo ek het dié ongeneeslike siekte. Die medikasie het my egter altyd so siek gemaak. Omdat ek onraad vermoed het, het ek vier ander dokters gaan spreek.”

Sy vertel dis eers met ʼn onlangs besoek aan die spesialis dat sy gehoor het die diagnose was verkeerd. Sy wag nog vir die volgende diagnose, maar alle aanduidings dui daarop dat dit galstene is.

Candy sê dié diagnose het haar anders na die lewe laat kyk. Sy is in 2015 geweldig geïnspireer deur dansers in rolstoele wat sy tydens ʼn opname van die oggend-televisieprogram, Espresso, ontmoet het.

Een van dié dansers, Chaeli Mycroft, is die einste vrou wat die Chaeli Veldtog van stapel gestuur het en die eerste vroulike kwadrupleeg wat berg Kilimandjaro aangedurf het. Mycroft se wilskrag en ywerigheid het dié sanger so geïnspireer dat sy besluit het om die dansers in haar nuwe musiekvideo, getiteld “Niks Kan My Keer Nie”, te laat verskyn.

Candy vertel haar hernude uitkyk op die lewe is te danke aan mense met ongeneeslike siektes wat daagliks uitdagende lewenservarings oorkom het en met nuwe hoop leef.

“Tel jouself op, stof jouself af en begin van voor af.  Moenie wag vir dinge om te gebeur nie, skep vir jouself geleenthede en moet nooit moed opgee wat jou drome betref nie. ’n Mens weet nooit wie ʼn boodskap van hoop benodig nie,” het sy vertel.

Haar eerste album het in 2013 op die rakke verskyn en haar ʼn benoeming vir nuwe kunstenaar van die jaar by die Ghoema-musiektoekenningsgeleentheid besorg. Verskeie treffers soos “With You” het op radiostasies soos Jakaranda FM se toptrefferlys gepronk.

Die sanger het ook onlangs verloof geraak. “Ek voel so geseën. Dit was tydens ʼn karaoke-partytjie by my ouerhuis. Ek is verloof, verlief en ek voel meer gesond as ooit. Ek dank die Here daarvoor.”

Besoek Candy Benson se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wali Kruger ·

Sjoe Candy. Bly die pragtige jong vrou wat jy is. Maak nie saak wat nie jy is tops en nr 1. In baie mense tieners self ouer mense se harte diep in gekruip… Wens jou alle sukses, gesondheid en voorspoed toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.