Candy Benson sing uiteindelik weer

Candy Benson. (Foto: verskaf)

Dit was ’n senutergende dag toe die sangeres, Candy Benson, vir die eerste keer na talle gesondheidstruikelblokke weer die verhoog aangedurf het, maar halfpad deur die eerste liedjie het haar hande ophou bewe en het die passie opnuut oorgeborrel.

In Junie 2021 het Benson se lewe onherroeplik verander nadat sy met Covid-19 gediagnoseer is. Dit was die begin van die lang, uitdagende pad wat Benson die afgelope jaar moes stap.

Maart vanjaar het egter vir groot opwinding gesorg toe Benson vir die eerste keer agter die mikrofoon ingeklim het om twee liedjies op die MFC Orchestra-skip te sing.

“Ek kan nie aan jou verduidelik hoe dit voel om op die verhoog te staan nie, dis waar ek vry is,” het Benson aan Maroela Media vertel.

Kort na die optrede is Benson egter deur nóg ’n gesondheidstruikelblok byna platgetrek.

“Ek het wakker geword met so snaakse borrel wat op my oog gebars het. As gevolg van maande se kortisoon- en steroïedbehandeling, het daar bloedklonte in my oë gevorm.”

Na ’n besoek aan die dokter en talle toetse, het dit gelyk asof ’n volgende hospitaalopname vir Benson onafwendbaar was. Sy het vreeslik gehoes en haar bloeddruk was geweldig hoog.

“Ek het besluit dat ek nie heeltyd in die hospitaal kan wees nie, my liggaam moet self daarteen veg. Die dokter het my op ’n hoë dosis antibiotikum gesit.”

Benson se infeksiemerkers, wat met die diagnose van die bloedklonte vreeslik hoog was, het drasties gedaal.

Haar veggees is ook die rede vir Benson se probeerslae om daagliks 5 km te loop.

“Ek kry dit nie elke dag reg nie, maar ek probeer.”

Benson is op Moedersdag vanjaar wéér verhoog toe, die keer vir ’n volledige vertoning.

Sy het bewoë geraak terwyl sy die ervaring beskryf het.

“Dit was so spesiaal gewees, ek kon ’n oomblik met my ma deel. Sy is so lief vir musiek. Dit was egter die eerste een sonder my pa, wat altyd gehelp het om my toerusting op te slaan. Dit was bittersoet, ek het hom vreeslik gemis.”

Op 10 Julie 2021, is Benson inderhaas na die Netcare Olivedale-hospitaal in Johannesburg geneem waar sy op 60 l suurstof per minuut gesit is. Nege dae later, op 19 Julie, het haar pa gesterf, nuus wat Benson, op aanbeveling van haar dokters, eers in Augustus sou hoor.

“Dit was vir my baie moeilik. Ek het goed gesien en gehoor wat ek nooit weer wil beleef nie,” het Benson oor haar ervaring in die hospitaal vertel.

Candy Benson en haar ma, Cindy. (Foto: Facebook/Candy Benson)

Benson se ma, Cindy, was haar se steunpilaar die afgelope ruk.

“My geloof en my ma is wat my staande gehou het. Sy is ongelooflik sterk, sy het alleen deur alles gegaan en my al die pad bygestaan.”

In die vyf maande wat Benson in die hospitaal was, kon Cindy haar dogter slegs maar net vier keer besoek.

“Ons het die res van die tyd op WhatsApp gesels.”

Benson moes altesaam vir vyf maande noodgedwonge die gemak van haar huis vir die hospitaal verruil.

“Ek moes weer leer loop. Dit was asof my spiere net weg was, my kuite was die grootte van my voorarms.

“Die Here het my egter ’n tweede kans gegee.”

Bekommernis oor haar stem en of sy weer op die verhoog sal kan wees, het vir talle slapelose nagte gesorg.

“Ek het baie daaroor gebid. Daar was ook soveel mense wat vir my gebid het. Ek het geweet dat ek graag weer sou wou sing, dit is ’n groot passie vir my. Die feit dat ek nie geïntubeer was nie, het heel moontlik my stembande gered.”

Die hospitaalpersoneel het ook ’n reuserol in Benson se beterskap gespeel.

“Hulle was ongelooflik vriendelik, hul besoeke het my altyd so positief gelaat. In die aande om agtuur het hulle gesing en elke Sondag het hulle gospelmusiek gespeel. Dit het ’n groot verskil gemaak aangesien ons nie ons familie en vriende kon sien nie.”

Benson wil graag diegene wat vir haar gebid het bedank.

“Dit is mense se gebede wat my deurgetrek het, dankie!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

Alle dank aan ons Hemelse Vader! So bly jy is weer gesond en op die been. Wens jou alles van die beste toe vorentoe.

Jack ·

Hoop sy word gou beter en dat sy nog baie kan sing in die toekoms.Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.