Capital Singers dra derduisende by vir behoeftige Pretorianers

Die duisend stemme van die Capital Singers in aksie. (Foto: Capital Singers/Facebook)

“Die Capital Singers het die afgelope jaar R172 000 in ons gemeenskap belê via Groot FM se gemeenskapsprojekte.”

Lindie Strydom, projekorganiseerder van Groot FM, spreker, skrywer en aanbieder, het dié nuus Saterdag op haar sosialemedia‑bladsye aangekondig.

Die Capital Singers se feesprogram in die Sun Arena by Time Square, getiteld Noël, het die afgelope naweek soveel as 14 000 konsertgangers bekoor saam met die sensasionele stemme van Thembeka, The Voice SA-gunsteling, Louis Loock, solokunstenaar en voormalige lid van die groep Romanz, en Nadine, gewilde sangeres en aanbieder.

Die Capital Singers is eie aan die Jakarandastad en is die eerste koor ter wêreld wat met ’n duisend stemme van amateurkoorsangers pronk. Dit is ook die enigste amateurkoor wat deur professionele spanne ondersteun word – van orkesbegeleiding en stelontwerp tot beligting.

“Dan praat ek nie eers van die koorsangers wat elke keer self iets bydra nie, hetsy Kersgeskenke, baadjies of skryfbehoeftes vir behoeftige kinders,” het Strydom gesê.

Sy het bygevoeg hierdie geld het dié gemeenskapsradiostasie in staat gestel om duisende mense in en om Pretoria se lewens direk en ook indirek te raak.

Christo Burger, regisseur en dirigent, sê dat om in ʼn koor te sing deesdae positief en hip is – nie net wêreldwyd nie, maar veral op eie bodem. (Foto: Capital Singers/Facebook)

“Ons kon onder andere juffrouens oplei vir ʼn dagsorgprogram in Plastic City, ʼn groentetuin plant vir Laerskool Kameeldrift en ʼn sandput hervul en herstelwerk doen vir Kleintreetjies Kleuterskool. Huis Ebies se kinders was op ʼn vlieguitstappie en die inwoners van Phyllis Robertson is bederf met ʼn Kersete.

“Verder kon Joseph die Comrades gaan hardloop, Maxie se ma haar elektriese rolstoel kry en ʼn paar matriekdogters ʼn spesiale matriekafskeid geniet,” het sy gesê oor liefdadigheidsprojekte wat ook deur Groot FM aangepak is.

“Daar was medikasie en behandeling vir kankerpasiënte en ander kere sommer net die grootste teddiebeer wat ons kon opspoor om ʼn klein dogtertjie in die hospitaal te gaan verras.”

Strydom het voorts vir Christo Burger en Michael Barrett, die regisseurs en dirigente van die Capital Singers, bedank. “Hulle span, elke sanger en kunstenaar en elkeen wat ʼn kaartjie gekoop het, want dis julle elkeen se ‘gee’ wat ons bloot kon gaan aangee.

“Ek wens eintlik ek kon elke stukkie vreugde en dankbaarheid wat ons die afgelope jaar beleef het vir jou toedraai as ʼn Kersgeskenk om saam met die mooiste Kersmusiek te geniet!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

EO ·

Geluk Groot FM en Lindie Strydom vir julle uitmuntende organisasie. Dit wil gedoen wees!!

Marlyn ·

My eerste ervaring om deel te wees van die Capital Sangers as koorlid, was net eenvoudig n ongelooflike wonderlike voorreg! Dankie aan al die persone wat bygedra het tot die sukses van die fondinsamelings geleentheid. Met spesiale dank aan Dr. Michael Barratt en Christo Burger, die passievolle en uitmuntende Dirigente van die Koor ,en hulle fantasiese mense verhoudings en humor. Mag al julle Koor drome bewaarheid word en mag ekself en baie mense opgeroep word om deel te wees van verskil maak in ons omgewings en in ons pragtige kleurvolle land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.