Capital Singers: Duisend stemme sing saam met bekendes

Michael Barrett, mede-regisseur en dirigent, glo koorsang is ‘n positiewe uitlaatklep en eenheidsfaktor. Foto: Capital Singers se Facebook-blad.

Die spreekwoord lui wel dat daar niks nuuts onder die son is nie, maar in Pretoria skitter ʼn trotse wêreld-eerste op die horison – die Capital Singers se feesprogram in die Sun Arena Time Square getiteld Noël.

Die Capital Singers is eie aan die Jakarandastad en is die eerste koor ter wêreld wat met ’n duisend stemme van amateur koorsangers pronk. Dit is ook die enigste amateurkoor wat deur professionele spanne gerugsteun word – van orkesbegeleiding en stelontwerp tot beligting.

Op 7 en 8 Desember sal soveel as 14 000 mense deur hierdie koor en hul kragtige stemme betower word. Dié reeds opwindende geleentheid sal boonop ekstra momentum kry danksy die bydraes van drie sensasionele stemme: Thembeka, The Voice SA-gunsteling, Louis Loock, solokunstenaar en voormalige lid van die groep Romanz, en Nadine, gewilde sanger en aanbieder.

Die Capital Singers se duisend stemme in aksie. Foto: Capital Singers se Facebook-blad.

Koor sing, cool wees en karakter bou

Die persepsie dat net pershaar-tannies en skoolkinders in kore sing is verouderd. Christo Burger, regisseur en dirigent, sê dat om in ʼn koor te sing deesdae positief en hip is – nie net wêreldwyd nie, maar veral op eie bodem. En dit geld ook nie net vroue nie.

“Koor sing is skielik cooler as cool, ook vir seuns wat net so entoesiasties in ʼn skrum sak as wat hulle in ’n groep saamsing,” verduidelik hy.

Maar dit gaan nie net oor die pret nie. Navorsing dui daarop dat koor sing ook karakter bou en kinders se akademiese prestasie verbeter. “Dit leer kinders dissipline en fokus, en dit ontwikkel hul sintuie en emosionele ontwikkeling,” sê Burger.

ʼn Geskenk wat aanhou gee

Om deel te wees van ʼn koor is ideaal in ʼn tyd en omgewing soos Suid-Afrika. “Musiek was nog altyd gewild, veral in Suid-Afrika waar ons so ʼn groot vraag na bekostigbare en skeppende ontspanningsaktiwiteite in veilige omgewings het,” verduidelik mede-regisseur en dirigent, Michael Barrett.

“Teen hierdie agtergrond is koor sing nommerpas. Jy hoef nie ʼn klavier te koop om te sing nie – al wat jy nodig het, is ʼn stem.”

Barrett wys ook op die gebrek aan finansiering vir die kunste in ontwikkelende lande, gekombineer met armoede – aan die een kant as bydraende faktor tot ʼn groeiende krisis en aan die ander kant as ʼn puik geleentheid vir koorsang as ʼn positiewe uitlaatklep en eenheidsfaktor. “Ek sien die positiewe sosiale kapitaal wat die sangers uitstraal wanneer ʼn mens vir hulle ’n veilige omgewing skep waarbinne hulle hulself kan wees en hulle talente kan uitdruk,” sê hy.

Christo Burger, regisseur en dirigent, sê dat om in ʼn koor te sing deesdae positief en hip is – nie net wêreldwyd nie, maar veral op eie bodem. Foto: Capital Singers se Facebook-blad.

Globale groei

Daar is volop bewyse van die groeiende mag van koormusiek, insluitend geleenthede soos die Wêreldkoorspele wat in 2018 in Suid-Afrika plaasgevind het, die onlangse internasionale sukses van die Ndlovu Youth Choir, TV-programme soos Glee en America’s Got Talent, en groepe soos Pentatonix.

Nie net wat nie, maar hoekom

Terwyl hy vol trots en waardering is vir alles wat die Capital Singers vermag, beklemtoon Burger dat dit nie net gaan om wat hulle doen nie, maar uiteindelik hoekom hulle dit doen. “Die suiwer mag en skoonheid van duisend stemme het die potensiaal om mense sprakeloos te laat. Ons hoop dat die impak van die musiek boekdele sal spreek – nie net vir gehore nie, maar ook vir die mense wat ons in samewerking met GROOTfm 90.5 se #HOOPstoot-liefdadigheidsinisiatief wil bereik,” sê hy.

Alles begin en eindig egter met sang. “My wens, my beroep op mense is om by ons aan te sluit in die Sun Arena op 7 en 8 Desember en te sien hoe ’n duisend stemme ʼn verskil kan maak, op én van die verhoog af.”

  • Kaartjies vir die Capital Singers se Noël-optrede op 7 en 8 Desember kan by iTickets.co.za bespreek word.
  • Michael Barrett en Christo Burger, regisseurs en dirigente van die Capital Singers, het in Maroela Media se ateljee kom kuier. Barrett en Burger het meer vertel oor die koor en wat hulle met Noël beplan het. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

Video: Hier is ‘n vinnige kykie agter die skerms waar meer as ‘n 1000 koorlede saam geoefen het vir die Noël-optrede:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.