Carike Keuzenkamp vereer

Carike Keuzenkamp en dr. Danie Langner (Foto: Verskaf)

Die immergewilde Carike Keuzenkamp is Vrydag tydens die Afri-Duetfees in Pretoria deur die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer.

Dié fees is vanjaar by die ZK Matthewsteater in Pretoria gehou.

Keuzenkamp, veral bekend vir liedjies soos “Hoeka Toeka”, “Heidi”, “Liewe Heksie” en “Bartolomeu Dias”, is met ʼn FAK Prestige-toekenning vereer vir haar positiewe bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê die sangeres ontvang onder meer dié toekenning omdat haar liedjies “ʼn liefde vir die Afrikaanse taal en kultuur kweek”.

“Dankie vir die skoonheid wat jou musiek oorgedra het deur generasies heen. ’n FAK-toekenning vir ’n halfeeu se lewenswerk is ’n raaksien en waardeer,” het Langner gesê.

Langner het ook die Carike Keuzenkamp-roos aan die sangeres oorhandig en vertel dat dié roos se betekenis met haar loopbaan vergelyk kan word.

“Toe ek 50 jaar terug begin sing het, het ek eerstens nie gedink dat ek so lank gaan sing nie en tweedens dat ek so ʼn toekenning sou kry deur ’n fantastiese organisasie soos die FAK nie, dit is vir my ’n ongelooflike eer,” het Keuzenkamp tydens haar aanvaardingstoespraak laat hoor.

Die Carike Keuzenkamp-roos is ’n diep oranjerooi, amper vermiljoen, snyroos van medium hoogte. Die knoppies ontvou grasieus om ’n treffende, ferm blom te openbaar. Sy projekteer energie, jeug en geluk met haar opvallende voorkoms en behou haar vorm wanneer volwasse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Sy verdien dit oor en oor. Ek was ernstig verlief op haar en Glynnis Lynn van Four Jack and a Jill farm gedurende my skooljare!

Ella ·

Sy is vir my die verpersoonliking van sjarme en styl. Ek vertel graag hoe ‘n jonger man by ‘n liefdadigheidsgeleentheid waar geld ingevorder is deur ‘n dans met die sterre van ons plaaslike sepies soos Diaan Lawrenson, die sepiesterre oorgesien het en gevra het of hy nie eerder kan bie op ‘n dans met ‘Tannie Carike’ nie – en toe meer betaal het vir daardie dans as wat enige van die fraai jong ‘celebs’ kon genereer … sy het daardie soort finesse wat tydloos is en moeiteloos respek en bewondering inoes.

Vermeende ·

As daar in SA ooit n ikoon was waarna kinders kan opkyk dan was dit nou maar sy, altyd n glimlag en altyd n goeie skoon Afrikaans gepraat en ek kan aan geen skandes van haar dink nie.
Sy is voorwaar n voorbeeldige mens, wel gedaan en wel verdiend.

Ek stem ·

@ Ella & Vermeende: Absoluut net soos julle daar sê. ñ Ware rolmodel en boonop tydloos pragtig met geen skandes.

Bewonderares ·

sy is een van die mooiste vrouens in Suid-Afrika. Ooit. Sy word net nie oud nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.