Carike Keuzenkamp verjaar en stel binnekort ‘n nuwe album vry

carike-keuzenkamp

Carike Keuzenkamp verjaar op 3 Maart en gaan boonop binnekort ‘n nuwe album vrystel. Foto: Argief.

Een van Suid-Afrika se gewildste sangeresse tot nog toe gaan binnekort haar langverwagte terugkeer maak met ‘n nuwe album.

Dit mag voorkom asof Carike Keruzenkamp lank stil was, maar in werklikheid het sy haar die laaste paar jaar op kinderalbums toegespits. Sy is egter byna gereed om weer ‘n album vir haar volwasse aanhangers vry te stel. Dit sal glo ‘n versameling van haar vroeë treffers wees, maar met vyf splinternuwe snitte ingesluit.

Carike se loopbaan het in 1967 begin toe sy ‘n onderwysstudent aan die Universiteit van Pretoria was en as joolkoningin gekies is. Die bekende rolprentvervaardiger en akteur Jamie Uys se dogter het saam met Carike gestudeer en dit het gemaak dat sy ‘n rol in Jamie se rolprent Die professor en die prikkelpop losgeslaan het. Sy het ook die liedjie Timothy in dié rolprent gesing. Four Jacks and a Jill se weergawe was die temaliedjie. Dit is geskryf deur die destydse teologiese student Dopper Erasmus, wat Carike en haar man, Olaus van Zyl, in die huwelik bevestig het nadat Erasmus predikant geword het. Op 27 Oktober 1967 het Carike se weergawe van Timothy tot Springbok Radio se Top 20 toegetree, presies ‘n week nadat Four Jacks and a Jill se weergawe dit reggekry het. Timothy het die enigste Suid-Afrikaanse liedjie geword waarvan twee weergawes die nr. 1-posisie op Springbok Radio se Top 20 gehaal het. Nadat haar debuutalbum, The charm of Carike, vrygestel is, het sy nog ‘n treffer op Springbok Radio gehad. Last dance het op 8 Maart 1968 tot die Top 20 toegetree, maar net die 14de plek gehaal. Sy sou eers tien jaar later weer ‘n treffer op Springbok Radio hê, maar meer later hieroor.

Carike se eerste Afrikaanse album, Almal se keuse, het in 1969 verskyn. Hierdie album het sommer ‘n spul treffers opgelewer, onder meer Sy kitaar en die see, Trekliedjie, Mangwane mpulele en Daar doer in die Bosveld. Die gewildheid van hierdie album het gemaak dat sy mettertyd besluit het om haar op Afrikaanse musiek toe te spits. Nog treffers het gevolg, onder meer Dink aan my, Droomverlore, Die graaf van Bloemfontein, Jy kom terug na my en Reëndruppeltjies. Met die koms van televisie in 1975 het Carike ‘n oudisie geslaag om die kinderprogram Kraaines aan te bied. Benewens ander insetsels het sy ook nuwe Afrikaanse musiektalent aan die publiek bekendgestel; kunstenaars soos Laurika Rauch, André Schwartz en Karin Hougaard het hul debuut op dié program gemaak. Coenie de Villiers was besig met sy militêre diensplig toe hy op die program verskyn het.

In die 1970’s het Carike saam met verskeie liedjieskrywers begin werk. Jan de Wet is dalk vandag bekend as die pionier van moderne Afrikaanse Christelike musiek soos ons dit ken, maar hy het verskeie treffers gekomponeer. Twee daarvan het groot treffers vir Carike geword, naamlik Kaalvoet in die reën en Sarah de Jager. Laasgenoemde is op ‘’n ware verhaal gebaseer. Anton Goosen het ook in hierdie tyd bekendheid as liedjieskrywer en sanger verwerf. Sy komposisie, Hoeka toeka, het op 29 September 1978 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree en die 17de plek gehaal. Die ander groot treffer wat Anton vir haar geskryf het, was Byeboerwa wat, snaaks genoeg, nooit as ‘n kortspeler uitgereik is nie. Nog ‘n groot treffer uit daardie tyd was Heidi, ‘n Afrikaanse weergawe van die Duitse temaliedjie van die gelyknamige televisiereeks. Hoewel Herbie en Spence se Afrikaanse weergawe op Springbok Radio se Top 20 was, was Carike se weergae op die ou einde baie gewilder. Dit was ook die titelsnit van ‘n kinderalbum wat platinumstatus verwerf het. Verdere kinderalbums het gevolg, onder meer Daar kom die roomysman, Aai aai die Kraaines-kraai en Die blye boodskap-trein.

Hoewel sy ‘n paar treffers in die vroeë 1980’s gehad het, onder meer Do you speak English en Kan jy nog onthou (albei saam met Johan Stemmet), Lang maer blonde man en Johannesburg, was 1987 haar groot jaar. Sy het haar twintigste jaar in die musiekbedryf en haar veertigste verjaardag gevier met die bekendstelling van haar album Ek sing, wat twee reuse treffers opgelewer het. Johan Stemmet het die woorde van Dis ‘n land geskryf, en dit het dadelik gewild geword. Bartholomeu Dias is vrygestel om saam te val met die 500ste herdenking van dié bekende seevaarder se vaart om die Kaap, en is as amptelike feeslied aangewys. Later is dié album heruitgereik met ‘n weergawe van Bartholomeu Dias met Portugese- en Engelse woorde. Later het sy sukses behaal met Onthou jy nog (wat deur Koos du Plessis geskryf is), Jy moet bly glo, Stap saam met my en Dit reën in Tsitisikama. In 1995 het sy die album Timothy vrygestel; hierop was daar nuwe opnames van haar ou treffers, soos die titelsnit,  Sy kitaar en die see en Droomverlore, asook ander gunstelinge uit haar jong dae, soos A world of our own van The Seekers, Jamaican farewell van Harry Belafonte, Master Jack van Four Jacks and a Jill en The French song van Lucille Starr. Die afgelope vyftien jaar het Carike hoofsaaklik op musiek vir kinders gekonsentreer. Drie volumes van Carike in kinderland is uitgereik, en haar gewildheid het nog verder toegeneem toe die karaktertjie Ghoempie saam met haar begin optree het.

Daar is vier van Carike se treffers in die nuwe FAK-sangbundel ingesluit, naamlik Byeboerwa, Dis ‘n land, Sarah de Jager en Hoeka toeka, asook liedjies wat vir ander kunstenaars treffers was, maar wat sy ook opgeneem het, soos Groen koringlande, Dorstyd, Die lappop, Daar doer in die Bosveld en Heidi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tina ·

Ek is altyd bly as Carike nuwe musiek opneem, en ek wag al lank vir nuwe musiek van haar. Ek is bietjie teleurgesteld dat dit alweer net ou liedjies is met paar nuwe snitte. Ek hoop nou maar net dit is nie dieselfde ou liedjies wat al tot vervelens toe uitgereik is op grootste treffers albums nie. Daar is van haar musiek wat nog nooit op cd vrygestel is nie, ek hoop regtig dit is van daardie liedjies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.