‘Carnival of Keys’ eersdaags by Kleinkaap-hotel

Carnival of keys is ʼn opwindende ligte klassieke musiekuitvoering wat op 25 Mei by die Kleinkaap-boetiekhotel in Centurion aangebied word.

Musiekliefhebbers kan uitsien na ʼn klavierrepertorium vir vier hande wat met sanguitvoerings deur bariton Chris Vale en sopraan Marilize Hattingh gekombineer word.

ʼn Uitvoering van Camille Saint-Saëns se “Carnival of the Animals”, wat deur Franco Prinsloo verwerk is, word met nuwe vokale toevoegings opgevoer. Philip de Vos het die prettige en eienaardige verse vir dié lied geskryf.

Wonderlike klavierduette en -solo’s deur twee van Suid-Afrika se toppianiste, Laura Pauna en Eugene Joubert, is ook op die program, asook kunsliedere vir sopraan en bariton. Die vleuelklavier wat tydens hierdie geleentheid gebruik word, is deur WS Pianos geborg en word spesiaal na Kleinkaap-boetiekhotel verskuif vir die konsert.

Kaartjies vir die konsert sluit ʼn meze-bord in met vingerhappies soos gepeperde roomkaas, cheddarkaas, bruschetta, soutkoekies, humus, hoenderkebabs, aartappelwiggies en sjokoladebruintjies.

Kleinkaap-boetiekhotel bied ook spesiale oornagpakkette vir gaste wat die konsert bywoon. Dit sluit twee kaartjies, ʼn meze-bord, verblyf en ontbyt in.

Kaartjies vir die konsert kos R440 en is aanlyn te koop by Plankton.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.