Caroline-Grace pak moederskap al singende

Caroline-Grace Brüssow het die afgelope twee jaar haar sangloopbaan opsy geskuif om enersyds ma vir twee jong spruite en andersyds vrou te wees vir haar rugbyspelerman wat ná jare lange rondrits uiteindelik stilsit.

Die Brüssow-gesin het einde verlede jaar in George in die Wes-Kaap nesgeskop nadat Caroline-Grace (34) en Heinrich (34) vir sowat agt jaar gereis het weens sy loopbaan as voormalige Springbokrugbyspeler.

Die egpaar se seuntjie, Marcel Werner (nou 17 maande oud), is in 2019 gebore en hulle dogtertjie, Isa Grace, het in Maart vanjaar haar opwagting gemaak.

Sy het egter tyd ingeruim om weer die ateljee te betree en aanhangers te bederf met ʼn splinternuwe enkelsnit getiteld “Breek”, wat Vrydag die lig gesien het.

“Ons almal het die een of ander tyd deur ʼn tydperk van hartseer gegaan. Dalk het jy uitgemaak met die liefde van jou lewe en gewens dat daar net daai een oomblik kon wees wat julle weer saam is, al moes hy jou hart van voor af kom breek.

Caroline-Grace saam met Marcel Werner en klein Isa Grace op haar skoot. (Foto: Facebook/Caroline-Grace)

“Jy het dalk jou lewensmaat afgestaan aan die dood en jy sal wat gee om net nog een keer daai persoon vas te hou, al beteken dit jy moet hom of haar weer verloor,” verduidelik Caroline-Grace die tema van die liedjie.

“Ek het self deur ʼn groot break-up met my kêrel gegaan – gelukkig vandag my man – toe ons op skool was. Ek het gedink ons sal nooit weer saam wees nie; ek kan onthou hoe graag ek hom net weer wou sien en wou hê als moet weer soos altyd wees, al sou dit beteken dat my hart weer kon seerkry.”

Sy vertel sy wou ʼn vars Caroline-Grace-klank na vore bring. “Die eerste keer dat ek die liedjie gehoor het, was dit in ʼn baie rou formaat, maar die melodielyn het dadelik my aandag getrek en my hartsnare geroer.”

Die blondekopsangeres vertel dit is “ʼn absolute vreugde” om die ma van twee te wees en dat Marcel Werner sy nuwe sussie soos goud hanteer.

“Hy aanvaar haar so mooi – baie kere wil hy haar net vashou of ʼn soentjie gee, maar elke nou en dan is daar oorlog wanneer hy haar fopspeen skielik uit haar mond pluk,” lag sy.

Sy gee toe dat sy haar dogtertjie meer sagkens benader. “ʼn Mens werk maar ʼn bietjie meer saggies met die ou dogtertjies as met die seuns.”

Hoewel haar swangerskap met Isa Grace nie heeltemal beplan was nie, kan sy en Heinrich nie meer opgewonde wees om ʼn tweede baba in die huis te hê nie.

Caroline-Grace en Heinrich Brüssow met klein Isa Grace se geboorte in Maart vanjaar. (Foto: Facebook/Caroline-Grace)

“Heinrich het een middag by die huis gekom en gesê Isa is vir hom ʼn mooi naam. Ek het die betekenis gaan opsoek en dit beteken ‘ode aan God’. Dit was vir my so ʼn mooi betekenis dat die naam op my gegroei het.”

Sy vertel die gesin pas maklik aan in George, waar Heinrich tans in die boubedryf werk. “Dis amper soos Bloem by die see,” lag die oud-Bloemfonteiner.

“Die mense is baie dieselfde en is vreeslik vriendelik en behulpsaam. Ek het ook wonderlike vriendinne gemaak in ʼn kort tyd, so ek is baie geseënd en dankbaar. Heinrich het ook ʼn paar vriende op die gholfbaan gemaak, so ons bly regtig lekker.

“Ons wil al so lank ons eie huis en heenkome hê. Ons is werklik nou baie gelukkig en heeltyd bymekaar.”

Luister hier na Caroline-Grace se nuwe enkelsnit, “Breek”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.