CD van die maand (resensie): Chris Chameleon – Jy en ek en ek en jy

Chris Chameleon

Vernuwing word dikwels oorspeel, as sou dit die enigste of selfs belangrikste kriterium wees wat ʼn kunstenaar se loopbaan moet kenmerk. Ten onregte word dikwels van ʼn kunstenaar verwag om met elke nuwe CD met “iets nuuts” vorendag te kom. Is vernuwing deurgaans moontlik, wonder ʼn mens.

Verruiming is ʼn ander saak. Om uit ʼn ryk (musikale) skatkis te put, dit jou eie te maak en dan daarmee te pronk; om jouself bloot te stel aan invloede en dit te assimileer verruim nie net jou eie werk nie, maar eweso die tradisie waarbinne jy werk.

Verruiming is iets wat ʼn mens behoort na te streef, eerder as eng vernuwing.

ʼn Verkleurmannetjie bly immers inherent wie hy is. Kwalik kan hy homself “vernuwe”. Hy kan wel vele gedaantes wys na gelang van die omgewing waarin hy beweeg.

Die omgewings waarin Chris Chameleon homself bevind of self plaas in Jy en ek en ek en jy het gewis opwindende gedaantes tot gevolg. Dit is sy eerste CD in ʼn lang ruk waarop hy 11 van die 12 snitte geskryf en getoonset het, en dit is terselfdertyd een waarin Chameleon volledig aan die woord is. Nie meer Ingrid Jonker se gedigte of teenwoordigheid nie, en ook nie Daniella Deysel se verse wat in Posduif, die vorige album, gebruik is nie. Dié jongste CD het Chris Chameleon in die kollig.

Dit blyk nie net uit die lirieke en die musiek nie; nie net uit die musikaliteit en sy geskakeerde stem nie; nie net uit die vindingryke gebruik van sy stem (gemoduleer en bemeester) in agtergrondsang nie, maar bowenal uit die individualiteit van die CD.

Hoewel Chameleon op die CD-omslag verwys na “geskryf en getoonset” kry ʼn mens nie die gevoel van twee afsonderlike prosesse nie, maar van ʼn produk wat één oorsprong het, met ʼn hegtheid tussen woord en klank. Die een snit waar dit nie só sterk uitstaan nie, is die titelsnit, geskryf deur Dave Prinsloo.

Die CD begin met “My beminde (Die deurbraak)”, ʼn prelude tot die res van die album, ingelei deur ʼn resitatief wat die belang van die woorde in die album benadruk, gevolg deur sang met kitaarbegeleiding waarmee die intieme toonaard van die CD gevestig word.

Getrou aan sy naam verwissel Chameleon gemaklik van toonkleur en vergestalt talle gedaantes van die “jy en ek en ek en jy”-verhouding – van stil intiem tot uitgelate soos in “Nie sonder die liefde nie” en “Die rede”. Laasgenoemde het die karakter van ʼn guitige tango tussen liriek en musiek.

Chameleon het ʼn goeie stem met ʼn besonderse spektrum. Maar dalk nog belangriker: Hy weet hoe om dié instrument ten beste te gebruik en dié jongste CD is by uitstek ʼn viering aan Chameleon se stem. Die orkestrasie is derhalwe nie uitspattig nie en selfs sonder perkussie (afgesien van elektroniese metrum).

Dié afwesigheid dui egter nie op ʼn gebrek nie, dalk juis omdat die aanbod vol genoeg is en interessant gemaak word, onder meer deur komplekse ritmes. Vergelyk byvoorbeeld die Indiese tala-polse in Die onomskryfbare en melodietinte wat eweneens put uit raga.

Jy en ek en ek en jy is ʼn album waarin musiek en musikaliteit seëvier en waarin Chameleon selfversekerd aan die woord is. En ʼn CD wat die Afrikaanse musiekskat heerlik verruim.

Koop die album op sy webwerf, op iTunes, Takealot of in enige goeie musiekwinkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae