CD van die maand (resensie): Deur my venster – Refentse

My hart bly in ʼn taal, die CD waarmee Refentse Morake verlede jaar sy debuut gemaak het, het nie net die aandag van die publiek op dié jong man gevestig nie, maar ook dié van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Vroeër vanjaar het hy vier Ghoemas met dié CD verower: dié van manskunstenaar van die jaar, album van die jaar, digitale album van die jaar en ʼn eretoekenning vir beste verkoper.

Om dié sukses te behaal met ʼn debuut en relatief min ervaring – Refentse, soos hy bekend staan, is nog nie 20 nie – is merkwaardig. Met ʼn goeie stem en sin vir musikaliteit het hy inderwaarheid vir hom ʼn plek in die Afrikaanse musiekwêreld losgesing.

Onlangs het hy sy tweede CD uitgereik, Deur my venster, ʼn album waarin hy, soos in sy debuut, erkenning gee aan die sangers wie se musiek ʼn groot indruk op hom gemaak het: in dié geval Koos Kombuis, Laurika Rauch, Koos du Plessis, Anton Goosen en David Kramer.

Rauch en Goosen tree saam met hom op in dié album: Rauch in haar treffer “Stuur groete vir Mannetjies Roux” en Goosen in ʼn medley met vyf immergroen Goosen-liedjies. Dit is egter met Koos Kombuis se “Lalie” waarmee Refentse sy tweede album open, ʼn roerende ballade met Lalie se “dooie boyfriend” aan die woord.

In dié keuse van liedjies gee Refentse aanduiding van die omgewing waarin hy homself tuis voel – dié van liefdesballades, liedjies met woorde met trefkrag, musiek wat die voete laat jeuk en les bes ʼn afgeronde produk.

Begin ʼn mens by laasgenoemde is dit Francois Steyn se bydrae as verwerker en opname-ingenieur wat grootliks bydra tot die gevoel van hegtheid in dié album. Steyn se betrokkenheid strek verder: Saam met Refentse speel hy kitaar en boonop ʼn hele rits instrumente.

Om die groot geeste voor jou se musiek te bemeester kan net ʼn goeie ding vir enige jong kunstenaar wees – mits jou eie stem (en stempel) gaandeweg sterker raak. In dié album is daar nog minder eiesoortige vertolking van bestaande liedjies en eerder sprake van nabootsing. Waarom wil ʼn mens byvoorbeeld Koos Doep se “Sprokie vir ʼn stadskind” “naboots” in plaas daarvan om met ʼn eie benadering vorendag te kom?

Van Refentse se eie skryfwerk is “Vuil Vanderbijl” die snit in sy jongste album wat tans die bekendste is, moontlik vanweë die voetklopritme en die slim ingeweefde konsertinaklank. Dit is gewis ʼn melodie wat in die geheue vassteek. Nietemin het die lirieke minder om die lyf, in die tradisie van rymdwang, en met geforseerde beelde en min koherensie:

Net buite vuil Vanderbijl
Waar die Tsotsi’s om die hoekie skuil
En die kinders byt die honde
Hulle het snorre om die monde
Dis vuil Vanderbijl
Op ʼn hoek sit ʼn oom en skuil
Want sy vrou het hom verruil
Vir ʼn pak sigarette en bleskop uil

Uit sy pen kom ook “Anoret”, “Melans MNel”, “Jané vir my”, Alles my nou” en “Sal jy?”

Refentse hét ʼn goeie stem. Met sy diksie is daar nie fout nie (behalwe dat hy soos etlike ander Afrikaanse sangers van “my” aan die einde van ʼn frase maklik “maai” maak), sy intonasie is knap en boonop is hy gewild. Met dié bestanddele kan hy dit ver bring in die Afrikaanse musiekwêreld.

Blywende en dieper spore kan hy mettertyd trap as hy voluit sy eie koers kan inslaan: In navolging van sangers wat Afrikaanse musiek én veral liriek verruim het met vindingryke bydraes, maar met sy eie stempel.

Deur my venster, Refentse se jongste CD, is beskikbaar by enige goeie musiekwinkel en op iTunes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stewert ·

Een van die swakste albums vir die jaar. Terrible. Lyk my die AABB, ABAB ruim is al wat ons geleer het. Beslis in my swakste top 20, moenie eers dat ek begin oor die Francois v Coke liedjie wat hy opge. het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.