Charl du Plessis gee vrye teuels aan kreatiwiteit in eerste solo-album

Charl du Plessis (Foto: Verskaf)

Charl du Plessis het onlangs sy eerste solo-album getiteld Freehand uitgereik. Du Plessis vier vanjaar sy 20ste jaar as professionele pianis en hoewel hy al verskeie albums die lig laat sien het, is dié album ʼn deurbraak vir hom.

“Ek het nog nooit so ʼn hoë mate van myself op ʼn album gewys nie,” erken hy. “ʼn Klassieke pianis speel weinig van sy eie komposisies – dis gewoonlik ʼn uitvoering van iemand anders se werk.”

Maar met dié album gee Du Plessis vrye teuels aan sý kreatiwiteit.

“Ek het lankal daaraan begin dink om my eie produk te skep,” vertel hy. “Maar ek was aanvanklik onseker oor die genre omdat ʼn album met 12 snitte wat dieselfde klink dalk vervelig kan raak.”

Du Plessis se solo-album bestaan uit 18 komposisies wat ʼn versameling van sy eie improvisasies is. Met die gedagte om nuwe musiekstukke te komponeer het Du Plessis al hoe meer begin improviseer en allerlei tegnieke op die proef gestel.

“Ek het die gewoonte om ná ʼn toer of ʼn lang dag by die huis te kom en my klaviere te gaan groet.” En dis juis dán dat hy doelbewus ʼn oomblik neem om musiek te speel waarvan hý hou – vrydenkend en spontaan.

Du Plessis gesels gemaklik oor die opname van sy album en hoe die proses maande geduur het voordat dit met groot sukses by vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees bekendgestel is.

“Dit was vir my ʼn groot verrassing toe al hierdie pryse ná Aardklop aan my oorhandig is. Ek het dit glad nie verwag nie,” erken Du Plessis openlik. Hy het drie toekennings ontvang wat die ATKV-toekenning vir grensverskuiwende werk (slegs debuut), beste musiekgedrewe produksie en beste musiekuitvoering insluit.

Charl du Plessis (Foto: Verskaf)

Ook die gehoor se reaksie was positief. “Ek het geen benul gehad hoe mense gaan reageer nie, maar ek is tevrede met die terugvoer.” Du Plessis is nie ʼn kunstenaar wat op aandag floreer nie, maar hy koester die verhoudings met sy aanhangers.

“Dis cool dat dit wat jy doen goed is, maar as mense jou ontmoet en jy is nie aangenaam nie, dan maak jy eintlik alles wat jy gedoen het ongedaan,” vertel hy.

Du Plessis se album sal aanvanklik net by vertonings te koop aangebied word en eers later op digitale platforms beskikbaar wees. Hy verduidelik soos volg: “Die besluit is tweeledig. Dit gaan oor gebruikers se verwagting dat produkte met die druk van ʼn knoppie beskikbaar is én terselfdertyd is dit finansieel nie die moeite werd nie.

“My aanhangers doen regtig moeite om my album in die hande te kry,” vertel hy. “Soveel mense bel en e-pos om te hoor waar dit beskikbaar is.”

Du Plessis het oor die jare heen ʼn genuanseerde loopbaan gehandhaaf – om bloot na hom as pianis te verwys is gans te kortsigtig. Buiten solo-optredes is hy boonop ʼn deeltydse dosent by Tukkies, stigter van die bekroonde Charl du Plessis Trio wat sedert 2001 saam toer en speel (met Werner Spies as baskitaarspeler en Peter Auret as tromspeler), én hy werk al die afgelope 19 jaar saam met Nataniël.

“Wat min mense weet, is dat ek soms die agent by Nataniël se vertoning is,” verduidelik Du Plessis oor sy rol as organiseerder. Hy vertel dat dit in vele opsigte ʼn groot leerskool vir hom is. “Dit is en bly wisselvallig – ʼn mens weet nooit of die kaartjies se pryse geskik is en of die datum reg is nie.”

Charl du Plessis (Foto: Verskaf)

In 2010 het Du Plessis bekendheid verwerf toe hy die jongste pianis in Afrika was wat as ʼn Steinway & Sons-kunstenaar aangewys is. Hy verduidelik: “Dit is ʼn ambassadeurskap wat die handelsmerk versterk. Dit beteken wel nié dat ek eksklusief op Steinway-klaviere speel nie.

“Iemand in die Steinway-familie nomineer jou as kunstenaar, daarna moet jy bepaalde dokumente en ʼn profiel aan die maatskappy stuur en op grond daarvan word jy goedgekeur, al dan nie,” vertel hy van die proses. Binne ʼn week nadat sy aansoek voltooi is, is dit goedgekeur.

“Dis ʼn groot kompliment en ʼn eer vir my as Suid-Afrikaanse pianis. As ʼn bus my môre omry, sal dit een van die dinge wees waarop ek seker dié trotsste is.” Du Plessis vorm deel van ʼn elitegroep kunstenaars wêreldwyd wat onder andere Billy Joel, Diana Krall en oorlede pianis Sergei Rachmaninoff insluit.

Wanneer ʼn mens so na hierdie befaamde pianis luister, is daar nie sprake van eiewaan nie. Du Plessis is ongekunsteld, ondanks sy wêreldroem en meesterlike talent.

Wen

Twee lesers van Maroela Media kan elk ‘n kopie van Charl du Plessis se eerste solo-album wen. Al wat jy moet doen om in aanmerking vir die prys te kom, is om jou besonderhede in die kompetisievorm in te vul.

Die sluitingsdatum vir hierdie kompetisie is Woensdag 12 November om 23:45.

  • Baie geluk aan Alida Jacobs en Michelle de Gavino Dias wat elk ‘n kopie van Freehand gewen het. 

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal op 13 November plaasvind waarna die wenners per e-pos in kennis gestel sal word.
  • Indien enige van die betrokke persone nie binne 48 uur reageer nie, sal ʼn volgende wenner aangewys word en die oorspronklike wenner die prys verbeur.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op sosiale media en op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die pryse word per koerier versend.
  • Die pryse kan nie vir kontant geruil word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.