Chopin, skilderye in aanlyn uitvoering

Wessel van Wyk, een van Suid-Afrika se bekendste pianiste, en die kunstenares, Elizabeth Riding is van 24 Julie in ʼn aanlyn uitvoering te sien wat deur die Brooklyn-teater aangebied word.

“Van Wyk en Riding het dié uitvoering in hul woonkamer opgeneem,” sê Jean-Pierre Verster, een van die Brooklyn-teater se direkteure. Van Wyk en Riding deel ʼn huis in Pretoria.

“Dit was ʼn noukeurige proses waartydens Riding se jongste skilderye en Chopin se stukke byeengebring is,” sê hy. Van Wyk speel bekende komposisies van Chopin wat onder meer walse, ʼn polonaise, twee nokturnes en ʼn etude insluit.

Van Wyk het sy doktorsgraad in musiek in 2001 aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. Hy is die eerste musikant wat dié kwalifikasie in Suid-Afrika ontvang het. Van Wyk is tans ʼn medeprofessor in UP se Musiekdepartement. Hy gee klas in klavier en kamermusiek en bied studieleiding aan nagraadse studente. Van Wyk word gereeld genooi om as beoordelaar vir nasionale musiekkompetisies op te tree en hy is passievol daaroor om uitvoeringsgeleenthede vir jong musikante te skep.

Riding is ‘n internasionaal bekroonde kunstenaar wat veral bekend is vir haar realistiese skilderye.

Die uitvoering word op 24 Julie om 15:00 op Brooklyn Teater se webwerf bekendgestel. Kaartjies kos R100 en luisteraars het tot drie dae ná die aanvangsdatum toegang tot die konsert.

Maroela Media het vroeër berig dat die Brooklyn-teater in Pretoria sy tiende bestaansjaar gevier het met die bekendstelling van ʼn nuwe webwerf wat gehore onder meer toegang bied tot produksies, bladmusiek en musieklesse.

Gebruikers het die opsie om maandeliks ʼn bedrag van R400 te betaal wat beteken dat hulle toegang tot alle materiaal op die webwerf het. Daar is ook die opsie om ʼn produk vir 72 uur te huur.

Kyk hier na die lokprent van die uitvoering:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.