Christelike solo-kunstenaars vorm supergroep

Manne wat gloWat kry jy as jy vier kunstenaars op die Afrikaanse Christelike musiektoneel bymekaarvoeg?

Jan de Wet, Willie Joubert, Leon Ferreira en Dewald Gouws het al bekendheid verwerf as solo-kunstenaars, maar hulle het besluit om saam te span en moontlik die eerste Afrikaanse Christelike supergroep, Manne wat glo, te vorm. Hul gelyknamige debuutalbum is pas uitgereik en by die NG-gemeente Valleisig in Pretoria vrygestel.

Jan is die pionier van kontemporêre Afrikaanse Christelike musiek. Hy was ‘n jong predikant toe hy vir die eerste keer met ‘n kitaar op die kanselm geklim het. Sedertdien was Afrikaanse Christelike musiek nog nooit weer dieselfde nie, en het die meeste Afrikaanse denominasies begin om volle orkesbegeleiding vir veral hul aanddienste te gebruik. Voordat Jan hom op Christelike musiek begin toespits het, het hy trefferliedjies soos Ek verlang na jou van Sonja Herholdt, Sonder jou van Ian en Dix en Sarah de Jager en Kaalvoet in die reën van Carike Keuzenkamp gekomponeer. Hy het ook DJ Opperman se gedig Sproeireën getoonset en dit My nooi is in ‘n nartjie genoem. Sy grootste Christelike treffer tot dusver was sekerlik Hierdie Kind, wat die Afrikaanse weergawe van Scott Wesley Brown se This little child is. Sy mees onlangse album, Hoe groot is U, is verlede jaar uitgereik.

Willie is al langer as twintig jaar in die musiekbedryf, en het al minstens twaalf albums (as ‘n mens trefferversamelings buite rekening laat) vrygestel. Onder Willie se grootste treffers is Die lewe is ‘n groot avontuur, God van wonders, Ek wil jubel en Ek wil die Here loof. Willie is getroud met die sangeres Natasha Joubert, en hy het ook al lirieke van sommige van haar treffers geskryf. Willie en Natasha het verlede jaar die duetalbum Ons dien ‘n God wat lewe vrygestel.

Leon se eerste album, Sê my, lewe jy, is al in 1992 vrygestel, en kan ook al as ‘n veteraan van die Afrikaanse musiekbedryf beskou word. Sy groot deurbraak was die treffersnit My pa is die Koning, wat op sy tweede album verskyn het. Hy het ook ‘n kommersiële treffer gehad met Dis dieselfde son, wat hy saam met die voormalige Cutt Glas-lid Jolette Odendaal gesing het. Leon se laaste album, Asemrowend, is verlede jaar vrygestel.

Dewald is die jongste lid van die groep, en het nog net twee albums vrygestel, naamlik Verhaal van glorie en sy nuwe album, Stuur my. Die titelsnit van sy eerste album, asook God van lig, het al heelwat radiolugtyd gekry, en daar is ‘n paar moontlike treffers op sy nuwe album, onder meer die titelsnit en ‘n Nuwe Halleluja.

Op hul debuutalbum is daar ‘n verskeidenheid van nuwe en bekende snitte. Onder die bekende snitte is Alle volke klap jul hande (uit die Liedboek van die Kerk), Jerusalem (oorspronklik ‘n treffer vir Gé Korsten), Soos ‘n vlam in die nag, wat Leon omtrent twintig jaar gelede opgeneem het en Joe Niemand se onlangse treffer Ek sal nie bang wees nie. Daar is ook ‘n aantal nuwes met trefferpotensiaal soos Manne wat glo, deur U krag (wat reeds oor die radio gespeel word), Mosterdsaad en Ek en my huis sal die Here dien.

‘n Volledige resensie van die album sal binnekort geplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.