Christia speel met klanke in jongste aflewering

Christia Visser.

Treffer ná treffer is die aktrise en sangeres Christia Visser besig om haar plek in die Afrikaanse musiekbedryf uit te kerf.

Visser, wat met liedjies soos “17 Shots” en “Die deur” haar debuut in die Afrikaanse musiektoneel gemaak het, se jongste enkelsnit, “Beste leuen wen”, is pas uitgereik.

Dié liedjie het reeds vandeesweek die Maroela Media Afrikaanse Top-20 in die 20ste plek betree en is op radiostasies landwyd te hoor.

Dié melodiese snit hou ʼn paar verrassings in en stel Visser se stemvariasie ten toon. “Ek het ʼn paar liedjies as voorbeelde gebruik van die klank waarna ek gesoek het en ek het baie van die ritmeveranderings gehou. In my kop is dit soos toneelveranderings en dit is vir my so interessant en mooi.”

Sy sê sy het saam met Ernst Kleinhans, Dirk van Niekerk en Adolf Vorster aan die liedjie geskaaf. Sy het self die liriek geskryf.

“Ek hou daarvan as die ritme van die liedjie soos ʼn hartklop is en ons het die wysie ook só laat verander. Alles het uiteindelik net ineengevloei en dit was vir my belangrik dat dít nie in ʼn boksie geplaas kan word nie.”

Die liriek is geïnspireer deur die deurmekaar wêreld waarin ons ons tans bevind, sê sy. “In dié stadium het ons almal net ʼn poker face en probeer werk met die pak kaarte wat die lewe vir ons uitgedeel het. Ons almal het goeie kaarte gekry, maar jy moet daarmee speel, anders weerhou jy jou daarvan om werklik te leef.”

Visser spog ook met ʼn splinternuwe, vars voorkoms. Haar lang donker lokke is korter gesny en rooier gekleur.

“As aktrise hou ʼn mens jouself gewoonlik as ʼn leë skilderdoek en ek het nooit my hare of my naels spesiaal laat versorg of verander nie. Ek het egter ʼn punt bereik dat ek besef het ek is ook belangrik, ek is net een keer hier en almal hoef nie daarvan te hou nie.

“Ek het met die uitreiking van my debuutalbum, Gemaklik verlore, gedink dit is ʼn goeie tyd om ʼn verandering te maak. Ek glo dit is tekenend van my groei as mens en ek hoop ek sal aanhou groei.”

Sy verklap dat daar nog ʼn enkelsnit is waaraan sy tans werk waaroor sy baie opgewonde is. Sy het ook aan die begin van die jaar aan ʼn reeks gewerk wat later vanjaar sal verskyn én is op 24 September weer op die grootskerm in Kaalgat Karel te sien.

“Dit was so ʼn pretfliek om aan te werk. Ek is bekend daarvoor dat ek lief is vir diep dramas, maar dit was heerlik om weer ʼn slag aan die ligter kant van dinge te wees en om saam met mense soos Schalk Bezuidenhout en Francois Jacobs te werk. Dit is ʼn fliek wat soveel hoop en vreugde vir ons kan bring in ʼn tyd dat ons dit bitter nodig het.”

“Beste leuen wen” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.