Christia Visser: ‘Musiek is nog altyd in my bloed’

Christia Visser. (Foto: Lora Photography via Instagram/Christia Visser)

Christia Visser. (Foto: Lora Photography via Instagram/Christia Visser)

Christia Visser, die Kaapse donkerkop aktrise wat veral bekend is vir haar rol as Lily in die kykNET-dramareeks Die Boekklub en as die jong Lena in die 2015-weergawe van die rolprent Ballade vir ʼn Enkeling, het nou ook die Afrikaanse musiekbedryf betree met ʼn ritmiese snit uit haar eie pen getiteld “17 Shots”.

Visser, wat in 2014 haar sangvernuf ten toon gestel het as Jana van Tonder in die Corné van Rooyen-rolprent, Hollywood in my Huis, vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media sy het die snit se lirieke self geskryf en die musiek is in samewerking met Select Musiek geskryf.

“Ek was gelukkig dat ek verskriklik baie insette in die snit kon lewer. Ek was bederf in die sin dat ek ʼn paar keer in die ateljee na nuwe verwerkings kon luister en die liedjie regtig my eie maak,” vertel Visser.

Christia Visser. (Foto: Suzanne Swart Photography via Instagram/Christia Visser)

Christia Visser. (Foto: Suzanne Swart Photography via Instagram/Christia Visser)

Volgens dié 27-jarige het sy juis besluit om haar toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf met dié snit te maak, omdat die lirieke haar na aan die hart lê omdat dit uitbeeld waar sy haarself tans in haar lewe bevind.

“Daarmee saam beeld die liedjie twee teenpole uit: As jy luister na die lirieke, is dit diep en persoonlik en amper seer, maar jy kan daarna luister en dit geniet, byvoorbeeld by ʼn braai. So die liedjie bereik ʼn wye mark.”

Sy sê sy is oorweldig deur die goeie terugvoer wat sy oor “17 Shots”, wat tans in die no. 6-posisie op die Maroela Media Afrikaanse top-20 is, kry.

“Toe dit aanvanklik uitgereik is, het ek nie geweet wat om te verwag nie, maar ek is baie dankbaar oor die goeie terugvoer. Daar is natuurlik mense wat dit nie verstaan nie of wat die lirieke verkeerd opneem, maar elke ou gaan net soos enige ander kunswerk die liedjie met sy eie idees interpreteer.”

Visser vertel dat mense haar reeds vir optredes wil bespreek, maar dat sy nog besig is om aan ʼn repertoire te werk. “Musiek is egter nog altyd in my bloed. Ek wou van kleins af graag ʼn sangeres word en op skool het ek weekliks van Swellendam na Worcester gereis vir sanglesse.

“Ek het nou nog net dié een enkelsnit, maar ek streef daarna om ʼn kunstenaar in my eie reg te wees. Soos wat my musiekloopbaan groei, sal ek meer gereeld optree.”

Sy het pas klaar geskiet aan ʼn Britse reeks vir die BBC, Naughts and Crosses, wat wêreldwyd versprei gaan word en begin ook eersdaags skiet aan die tweede seisoen van ʼn uiters gewilde kykNET-dramareeks. “Ek weet nie hoeveel ek daaroor mag verklap nie, maar ek is baie opgewonde daaroor,” sê Visser.

“17 Shots” is vir aankope op digitale platforms soos Joox, Apple Music, iTunes, Deezer en Spotify, beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris ·

Waarskynlik die mooiste aktrise in die land! ( My beskeie mening$

Chris ·

Waarskynlik die mooiste aktrise in die land! ( My beskeie mening)

Luister ·

Hoop nie jongmense gaan nou probeer om 17 shots te drink nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.