Coenie de Villiers: Nuwe album ‘eerlik, persoonlik’  

coenie-de-villiers

Coenie de Villiers. Foto: Miemie Wolmarans.

Coenie de Villiers se jongste album, Emoji, neem jou behoorlik op reis. Hy wek nie net emosie met behulp van sy lirieke en melodieë nie, maar verplaas jou as’t ware op ʼn emosionele vlak.

En dit is presies De Villiers se oogmerk met die album. “Ek wil emosie uitlok, jy moet net nie koud staan nie. Moet tog net nie vanielje wees nie.”

Hy gee toe dit is ʼn effens “deurmekaar” album, maar terselfdertyd een wat ook eerlik en baie persoonlik is: “Dit is soos ʼn potjiesresep. Daar is ʼn mengelmoes van musikante en vriende wat saam met my optree, waarvoor ek lief is en waarvoor ek respek het. Ek het met dié album alles gedoen wat ek regtig graag wou doen.”

De Villiers het mense soos Elvis Blue, Wouter Kellerman, Karen Zoid, Pops Mohamed, Leon Gropp van die kitaarduo CH2 en Hemelbesem saam met hom ateljee toe genooi.

ʼn Mens kan ook vir iGubi, ʼn 87-jarige Khoisan-musikant uit die Kalahari in die snit “Naledi” hoor. Benewens sing bespeel iGubi onder meer ʼn mondboog, kora en ʼn kalimba in dié liedjie.

emoji-coenieDie snit “Miskien”, waarvoor De Villiers die woorde geskryf het, is ʼn verwerking van die Franse komponis Gabriel Fauré se “Pavane”. Vir dié snit het hy die dienste bekom van die Turkse virtuose duduk-speler, Gürkan Çakmak.

“Die duduk is ʼn antieke Armeense dubbelriet-houtblaasinstrument,” verduidelik De Villiers. “Ons kon nie ʼn speler in Suid-Afrika kry nie, en Gürkan het in Athene by ons aangesluit vir die opname. Die resultaat is asemrowend.”

De Villiers sê die nuwe album bevat lirieke in Khoi-San, ʼn katspoegie Zoeloe en selfs Engels hoewel dit ʼn Afrikaanse album is, wat eg Suid-Afrikaans is.

Emoji is vroeër dié week in die Atterbury-teater in Pretoria bekendgestel en die album is reeds by alle goeie CD-winkels beskikbaar.

  • Coenie de Villiers het in Maroela Media se ateljee kom kuier en met Esté Meyer Jansen oor sy jongste album gesels. Luister na die onderhoud bo-aan hierdie berig en hoor ook sommer hoe van die liedjies op Emoji.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miemie Smit ·

Goeie dag –

Dankie dat julle ‘n artikel van Coenie de Villiers plaas. Ek sal net graag wil weet waarom die foto wat gebruik is gecredit is as ‘n foto wat verskaf is deur lekkerevents.co.za – dit terwyl ek die fotograaf was.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Miemie

Baie dankie dat jy ons gekontak het hieroor.
Ons het jou naam as fotograaf by die foto aangebring soos versoek.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Louis ·

Coenie is ongetwyfeld een van ons beste liedjie skrywers ooit. Verder het hy die vermoë om dit wat hy sing met soveel gevoel te sê dat wanneer ek met toe oë luister, ek die mooiste prentjies sien. Sy liefde vir Afrikaans en die Karoo is net so oorweldigend as sy beskeidenheid. Ek gaan vandag nog hierdie nuwe cd koop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.