Coenie en Deon se ‘Karoo Suite’ hiér te sien

Coenie de Villiers en Deon Meyer (Foto: Verskaf)

Coenie de Villiers en Deon Meyer se tweeluik Karoo Suite en Karoo Suite 2: Karoonagte word op 30 April en 1 Mei by Atlantic Studios in Kaapstad se inryteater aangebied. Die Suidoosterfees se inryteater-inisiatief het vanjaar die kykNET Blou Fiësta-toekenning ontvang vir innoverende werk.

Karoo Suite is ʼn meesterlike kunswerk wat saamgestel is uit Deon se fotografie as agtergrond en sy ware Karooverhale en Coenie se musikale verwerkings en lirieke. Hulle deel die verhoog met fenomenale musikante wat Jaconell Mouton (musiekproduksie en klawers), Mauritz Lotz (kitaar) en David Klassen (perkussie) insluit.

Die aanbieding word aangevul met foto- en videomateriaal van die Karoo-landskap wat deur die National Geographic-span en Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie (Nasa) verskaf is, asook animasiewerk deur Diek Grobler.

Weens die Covid-19-pandemie is al die vertonings vir Karoo Suite 2: Karoonagte kort ná die bekendstelling by 2020 se US Woordfees gekanselleer.

Coenie en Deon hunker daarna om weer op die verhoog te wees.

“Ons is honger om te speel en mense is verskriklik entoesiasties om dit te hoor. Maar ons kan net doen wat ons toegelaat word om te doen,” sê Coenie.

Deon het in ʼn telefoniese onderhoud met Maroela Media dié woorde beaam.

“Ek en Coenie kan nie wag om die Karoo Suite-konserte voort te sit nie,” sê hy. “Te midde van die pandemie is teaterproduksies met gehore nie moontlik nie. Maar die inryteater-inisiatief is voorwaar ʼn unieke ervaring wat ons in staat stel om die Karoo Kaap toe te neem.”

Coenie en Deon ken mekaar bykans 40 jaar en deel ʼn besondere liefde vir die Karoolandskap en sy mense. Coenie onthou dat Deon aanvanklik effens huiwerig was om stories vir ʼn produksie te skryf en voeg by dat dit na sy mening van Deon se mooiste skryfwerk nóg is.

Deon dink laggend terug aan Coenie se versoek en hoe hy kopgekrap het om met inhoud vorendag te kom.

‘n Toneel uit een van die ‘Karoo Suite’-produksies. (Foto: Verskaf)

“Een van die groot uitdagings was om te besluit oor watter eienskappe en elemente van die Karoo ek wou skryf. Ek het ʼn hele paar weke daaroor getob,” vertel Deon.

“Wat my so geweldig lief maak vir die Karoo is die landskap, sy mense en die stories wat ʼn mens daar vind. En dit vorm dan die kern van ons produksie.”

Coenie skryf die sukses van Karoo Suite toe aan ʼn hegte vriendskap tussen hom en Deon, wedersydse vertroue en respek, asook uitnemende musikante met wie hulle die verhoog deel.

Maroela Media het vroeër berig dat die Suidoosterfees in samewerking met Atlantic Studios vir die inryteater van ouds ʼn nuwe baadjie aangetrek het. Gehore kyk uit die gemak en veiligheid van hul motors na produksies op die silwerskerm. Teatergangers kan boonop aan heerlike padkafee-etes, wat vanuit die Kokkedoorstoor voorberei word, smul.

Produksies word regstreeks op ʼn buitelugverhoog aangebied en opgeneem. Inryteatergangers skakel dan in hul motors op ʼn FM-radiofrekwensie in om na die klankbaan van produksies te luister. Die geleentheid voldoen ten volle aan Covid-19-protokol.

Coenie en Deon beywer hulle lank reeds vir die ontwikkeling van jongmense met potensiaal. Karoo Suite het in samewerking met die Atterbury Trust bykans R1 miljoen aan leerders in die Karoo geskenk.

Die opbrengs van kaartjieverkope vir die inryteater se vertonings sal aangewend word om die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel-stigting se liriekskryf-mentorskapprogram uit te brei met werksessies wat voortaan ook in die Karoo en Kaapstad aangebied sal word. As deel van dié ontwikkelingsprogram kry liriekskrywers die geleentheid om in Suidoosterfees-produksies op te tree.

Kaartjies vir Karoo Suite se inryteatervertonings is by Computicket beskikbaar. Dit kos R400 per motor (met tot vier insittendes). Daar is slegs 40 ateljeekaartjies (vir binne die Atlantic-ateljees) per aand teen R300 per persoon beskikbaar. Klik hier om kaartjies aanlyn te koop.

Kyk hier na ʼn voorsmakie van Karoo Suite 2: Karoonagte. Die video word met vergunning van die produksieorganiseerders gedeel:

Karoo Suite

Deon Meyer en Coenie de Villiers se Karoo Suite het die afgelope drie jaar gehore op hulle voete gehad. Hulle keer terug met ’n aangrypende opvolg-produksie. Karoo Suite 2: Karoonagte verwys na Deon se gelyknamige boek en Coenie se bekende lied. Dis nagverhale deur Deon Meyer wat hy self op die verhoog vertel. Die musiek en orkestrasie word weer eens deur Coenie geskep en gespeel, bygestaan deur Mauritz Lotz op kitare. ✨ Dié multi-mediavertoning sluit beeldmateriaal van NASA en nagfotografie van onder meer National Geographic-fotograwe in, sowel as animasie deur die bekende kunstenaar Diek Grobler.

Posted by Karoonagte on Friday, March 6, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Dit gaan iets besonders wees.

Pieter

Wanneer gaan ons in Gauteng dit te siene kry?