Coffee Snobs: ‘Ná die seer wil ons lig bring’

Marius en Vernette Wessels, of te wel Coffee Snobs (Foto: Facebook)

Dit was soos ʼn doodsvonnis wat hy meteen opgelê is. Eers was hy blakend gesond, en toe is sy lewe skielik in gevaar. Die musiek-egpaar Marius en Vernette Wessels – of te wel Coffee Snobs – het twee keuses gehad: Marius se kankerdiagnose kon hulle onderkry óf hulle kon terugbaklei.

Die keuse was eenvoudig, vertel die egpaar – hulle het geveg. Nou is dit byna sewe jaar later en die musiekgroep spog met ʼn tweede album, wat Lig heet, en dié album vertel stories van hoop, genade en geloof.

Coffee Snobs vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dit was juis om dié rede maklik om hul albumtitel te kies. “Lig” is ʼn deurlopende tema in hul persoonlike lewens en nou ook ʼn tema in hul nuwe album.

“Lig kom baie voor in die lirieke,” vertel Vernette. “Die hele tema van die album is ʼn boodskap van hoop; dis positiewe musiek wat bedoel is om ʼn ewe positiewe invloed op mense se lewens te hê.”

Die liedjies in dié album is elkeen geskryf in die “moeilike tyd” waardeur die egpaar gegaan het. Hulle vertel hulle het doelbewus besluit om die album ʼn positiewe aanslag te gee.

“Al die liedjies is geskryf in ʼn tyd toe ons baie uitdagings in ons persoonlike lewe gehad het – maar toe weer besef het dat die Here ten spyte van moeilike tye getrou bly en dat daar altyd hoop bly en ʼn toekoms is,” sê Vernette. “Ons omstandighede het later weer positief verander en die stories van hoop waarvan ons in ons musiek vertel, beleef ek nou self.”

“Ja,” sê Marius instemmend. “Ek was met my kankerdiagnose 31 jaar oud en ons lewe is onmiddellik tot stilstand geruk. Dit het soos ʼn doodsvonnis gevoel. Ons is deur baie moeilike tye met chirurgie en behandeling en newe-effekte ná die tyd. Dit was in dié tyd dat ons hierdie liedjies geskryf het en die boodskap van lig geprofeteer het. Die Here het my bonatuurlik genees en ons wil deur middel van ons musiek dieselfde boodskap van hoop in mense se lewens bewerkstellig. As jy met enige persoon lank genoeg praat sal jy ʼn seerplek kry – en dit hoef nie noodwendig siekte te wees nie.”

Coffee Snobs meen Lig het hul identiteit selfs meer vasgevang as hulle vorige musiek. “Ons eerste album was ʼn streekproef om te kyk waar ons onsself in die mark kan plaas. Ons het Engelse en Afrikaanse liedjies ingesluit en besef dat ons waarskynlik ʼn meer Afrikaanse rigting gaan inslaan, selfs al sing ons ook Engels. Dié album wys wie ons as mense is: ʼn Groep wat eerlike musiek sing en ander daarmee wil aanraak.”

Meer oor die liedjies

“Noudat die lig op jou skyn”: Ons almal het ’n storie, ’n lewensverhaal met goeie en slegte goed wat met jou gebeur het. Jou storie kan vir ander mense wat deur dieselfde, of ander uitdagings gaan, hoop gee en daarom moet ʼn mens dit deel wanneer die tyd reg is en jy so gelei word.

Marius en Vernette Wessels, of te wel Coffee Snobs (Foto: Facebook)

“Gordonsbaai”: As jy op ’n mooi dag (wanneer die wind nie te erg waai nie!) laatmiddag oor Gordonsbaai uitkyk en jy sien hoe die wolke oor die berge spoel en die son in die see val, is dit só mooi!

“Kyk hoe reën dit buite”: Daar is niks so romanties soos wanneer dit saggies buite reën en jy en jou geliefde styf teen mekaar kan sit en vir die reën kyk nie.

“Kyk op”: Soms moet ’n mens opkyk, vasbyt en aanhou. Dis al wat jy kan doen totdat die wiel weer draai; en die wiel sál draai – al voel dit nie nou so nie.

“Oorlog”: Dié snit gaan oor ’n innerlike stryd tussen dit wat jy glo en dit wat jy sien en dan die besluit om aan te hou glo, vas te hou aan die Woord – al sien jy dit nog nie.

“Sing jou lied”: Hierdie liedjie is met so tikkie rebellie in haar geskryf, vertel Vernette. Dit is ’n proklamasie dat sy sal aanhou sing, of mense nou luister of nie, want sy het ’n boodskap om te verkondig deur musiek.

“Winternagte”: Spyt kom mos altyd te laat en dan wens jy dat jy die tyd kon terugdraai en die verkeerde goed wat jy gesê het terugvat…

Lig is beskikbaar op iTunes. Vir meer inligting besoek die groep se amptelike Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan Bodenstein ·

Dit is wonderlike nuus Marius!! Kyk voor julle en op boontoe en die antwoorde is altyd daar. Sterkte met julle nuwe album en mag dit net n groot sukses wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.