Cool

Divvi

Hy’s 14 jaar oud, maar tussendeur sy skoolwerk en perdry op die plaas kan Rohan de Villiers van Piet Retief sing dat die biesies bewe. Hy is in sekere kringe al die “Boere Bieber” gedoop, maar as Divvi sy mikrofoon lig, vertrap hy selfs al die vergelykings en ooreenkomste met dié oorsese popster.

Divvi debuteer met die sprankelende album getiteld Cool, wat sy vaardigheid as sanger aan die hand van 14 liedjies illustreer. Die titelsnit is ‘n hartroerende lied oor die impak van armoede op kinders – ‘n bonusvideo van die liedjie is ook op sy CD ingesluit. Sal jy my meisie wees, Druppeltjies en Popcorn gaan voorts oombliklik onder oud en jonk se velle inkruip.

Met liedjieskrywers soos Gerhard Steyn, Anton Myburgh en die produksieleier Andrew Roos aan sy sy het Divvi ‘n tapisserie van musiek gekies wat wissel van polsende dansritmes en hiphop tot pop-bekoring en ballades. Hy gee aan die volksliedjie Môre Oompie nuwe lewe en sit suiwer hoendervel in ABBA se I Have A Dream, om nie eens van die straatwyse Something I Can Do te praat nie.

Roos het Divvi ontmoet toe hy op soek was na ‘n seun met ‘n sopraanstem vir ‘n ligte klassieke projek waaraan hy werk. “Divvi is ‘n baie talentvolle seun wat besig is om in ‘n great sanger, rolmodel en jong man te ontwikkel. Sy nederige, skaam sjarme agter die skerms en sy selfvertroue op die verhoog maak hom uniek.”

Divvi het verlede jaar aan Talent America deelgeneem en die derde plek gehaal. Voorheen was hy ook lid van die Hoëveld Kinderkoor. “Van kleins af, elke verjaardag vandat ek kan onthou, wou ek ‘n musiekinstrument gehad het,” vertel die donkerblonde seun met die stem van ‘n engel.

Hy erken dis moeilik om tegelyk sy gr. 8-skooljaar te voltooi en sy droom om die Skouspel-verhoog met sangers soos Bobby van Jaarsveld en Juanita du Plessis te bewaarheid. “In die week leer ek en oor naweke sing ek. In die week is ek Ruan en oor naweke Divvi,” verkondig hy met sy voete plat op die aarde.

En dat hy nou met Justin Bieber vergelyk word? “Dit is ‘n groot eer, maar ek is maar net Divvi wat dankbaar is vir hierdie geleentheid en bly is dat my familie, ouers, broer en suster hierdie rollercoaster ride met my kan deel,” sê die boerseun met die wakkerblou oë.

Divvi is soveel meer as net ‘n tienerster. Hy’s superkoel en waarskynlik die mees dinamiese nuweling van 2011! (Vonk Musiek/Brak Musiek)

Speellys

  1. Cool
  2. Jantjie Pieterse
  3. Sal jy my meisie wees
  4. Popcorn
  5. Druppeltjies
  6. Duisend Ure
  7. Something I can do
  8. As jy net weet
  9. More oompie
  10. Lovesongs
  11. Altyd daar
  12. Skoelapper gevoel
  13. Skool is nie vir my nie
  14. I have a dream
  15. Bonus video vir PC “Cool”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.