Cora-Marie: 21 jaar later

Cora-Marie

Die gewilde Afrikaanse country-sanger Cora-Marie het 21 jaar gelede haar stryd teen kanker verloor. Foto: Coramarie.co.za

Op 8 Julie 1994 het die Suid-Afrikaanse musiekbedryf ‘n uiters gewilde kunstenaar verloor toe Cora-Marie aan kanker oorlede is.

‘n Mens wil nie te veel oor haar persoonlike lewe  sê nie, maar sy het onder moeilike omstandighede grootgeword. Sy het probeer om ‘n deurbraak in die musiekbedryf te maak met ‘n Afrikaanse weergawe van ABBA se treffer “Hasta manana”, maar dit was nie ‘n sukses nie.

In 1979 het sy egter die kortspeler “Vreugde op die plaas”, met “Veg vir jou land” op die keersy vrygestel en meer mense sou van haar kennis neem. In dieselfde jaar het sy die Anton Goosen-komposisie “Ster van Bethlehem” opgeneem, maar die SAUK het dit summier verbied omdat dit “te vrolik” was.  Sy het ook haar debuut op televisie gemaak in die program Elke liedjie vertel ‘n storie, waarin sy die Koos du Plessis-komposisie “Briefie uit die see” gesing het.

Cora-Marie se groot deurbraak het egter in 1981 gekom. Die radio-omroeper Sarel Marais, wat haar die bynaam Bossiekop gegee het, het Pieter Britz se komposisie “Gee haar ‘n roos” een Dinsdagaand op Radio Hoëveld gespeel en gedink dat min mense dit sou hoor omdat omtrent almal destyds na Dallas op televisie gekyk het. Die navrae het egter begin instroom en op 13 Maart daardie jaar het “Gee haar ‘n roos” tot Springbok Radio se Top 20 toegetree. Dit was die eerste Afrikaanse Top 20-treffer in meer as ‘n jaar.  Cora-Marie het met hierdie liedjie tot by nr. 16 gevorder en vyf weke op die Top 20 gebly.  Dit was die treffersnit van die album Lang verlang kontrei wat kort tevore uitgereik is. Cora-Marie het ‘n goueplaattoekenning vir hierdie album ontvang.

Die volgende jaar het Cora-Marie twee albums vrygestel, naamlik Monique en die kinderalbum Cora-Marie sing in feëland. Ironies genoeg het sy self nooit kinders gehad nie. In 1982 het haar volgende groot deurbraak gekom. Pieter Britz het weer met ‘n treffer vorendag gekom toe hy  die titelsnit van die album “Gee vir my ‘n bietjie country” geskryf het. Hierdie snit het  Springbok Radio se Top 20 op 20 Augustus daardie jaar gehaal, tot by nr. 12 gevorder en nege weke op die Top 20 gebly.  Cora-Marie het weer ‘n goue plaat vir hierdie album ontvang.

Kort daarna het iets gebeur wat ‘n groot invloed op Cora-Marie se lewe sou hê. Een aand met ‘n onderhoud op die radioprogram Keep it country het Cora-Marie gesê dat sy op soek was na oorspronklike Afrikaanse liedjies. Johan Wessels, wat op daardie stadium net ‘n aanhanger van haar was, het dit gehoor en in verbinding met haar getree.

Cora-Marie se man, Corrie Myburgh, was ook haar platebaas en hy het daarop aangedring dat Johan, wat onder die naam Kupido gesing het, eers op sy eie ‘n deurbraak moes maak voordat hy en Cora-Marie kon saamwerk. Dit het nie lank geduur voordat dit gebeur het nie, want Kupido het sy eie komposisie “Was ek maar ‘n digter”, opgeneem en nr. 16 op Springbok Radio se Top 20 gehaal.

Toe begin hy vir haar liedjies skryf en hulle neem hul eerste duetalbum op. Onder die liedjies wat Kupido vir haar geskryf het, was “Hartenbos”, wat net-net nie daarin kon slaag om Springbok Radio se Top 20 te haal nie, “Huisvrou blues”, “Hierdie roos” en “Stille waters, diepe grond”. Hulle het ook ‘n aantal treffers saam opgeneem, onder meer “Skemerrestautantjie”, “Tot siens sien jul weer”, “Voorspoedige lewensjaar” en “Bewaar dit”.

In Junie 1983 het Springbok Radio besluit om hul trefferslys van twintig na dertig liedjies te vergroot. Cora-Marie was die enigste Afrikaanse kusntenaar wat die Top 30 gehaal het, maar nie tot by die eerste twintig kon vorder nie. “Roos van my hart” was ‘n komposisie van Wouter de Wet. Dit het die 25ste plek gehaal en vyf weke op die trefferlys gebly.

Die volgende jaar het ‘n versamelalbum, Die Cora-Marie-storie verskyn en op die omslag het sy haar lewensverhaal in haar eie woorde vertel.  In 1985 het die Suid-Afrikaanse Rooskwekersvereniging besluit om ‘n roos na haar te vernoem.  Die Cora-Marie-roos is in die Duitse stad Hamburg ontwikkel en na Suid-Afrika ingevoer.

In 1986 het Cora-Marie hulde aan kunstenaars van weleer gebring met haar album Goue treffers herleef. Hierop het sy opgetree saam met legendes van plaaslike musiek soos Virginia Lee, Jurie Ferreira, Al Debbo en Min Shaw. In dieselfde jaar het sy ook haar sig gedeeltelik begin verloor en sy moes ‘n bril begin dra. Sy het egter suksesvolle oogoperasies ondergaan om dit te herstel.

Cora-Marie en Kupido het met hul volgende album, Tot siens gister, hallo môre besluit op ‘n meer moderne aanslag en hulle het wegbeweeg van die country-musiek wat hulle so gewild gemaak het. Nogtans was die album ‘n sukses en benewens die titelsnit was “Bewaar dit” ‘n groot treffer. Op daardie stadium het Cora-Marie reeds 21 goue plate vir albumverkope verwerf.  Nadat sy heelwat kritek verduur met haar album Tortelduifie skralelyfie het sy in 1989 die album Ek kan lewe vrygestel. Die komponis van die titelsnit was haar stiefseun, Anton Myburgh, wat vandag self ‘n sanger en liedjieskrywer in eie reg is.

In 1991 verander sy van platemaatskappy en neem haar album Liefde in die reën op. Die titelsnit was ‘n Afrikaanse weergawe van Billie Jo Spears se treffer “Blanket on the ground”. Nog ‘n treffer vanaf hierdie album was “Vir solank as ek leef”, die Afrikaanse weergawe van Audrey Landers se treffer “For the rest of my life”. Net nadat hierdie album opgeneem is, het haar gesondheid egter begin agteruitgaan. Haar hare het begin uitval en kanker is by haar gediagnoseer.

In April 1994 het Cora-Marie ‘n Christelike album, getiteld U wil sal geskied, opgeneem. Op daardie stadium het haar gesondheid tot so ‘n mate agteruitgegaan dat sy soms nie die krag gehad het om voort te gaan met die opnames nie.  Die album het binne sewe weke nadat dit vrygestel is, 80 000 eksemplare verkoop.

Op 8 Julie 1994 het Cora-Marie die stryd verloor. Sy was seker een van die kunstenaars wat country-musiek in Afrikaans gewild gemaak het en wie se musiek by ‘n groot gehoor byval gevind het.

https://youtu.be/vEO6PODGg4A

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gawie van Rensburg ·

Erken haar talente!Baie min mense het soortgelyk ontvang,ek haal my hoed af vir so mens.

Dielda ·

Wens ek kon nou my mooi fototjie van my, my boeta en Cora Marie aanheg :)

Shaun Mynhardt ·

Baie dankie vir hierdie mooi huldeblyk aan Cora Marie.Haar familie en vriende waardeer dit opreg.21 jaar later en Suid Afrika het haar nog nie vergeet nie.Kyk uit vir n program oor Cora Marie wat volgende jaar op TV uitgesaai gaan word,getiteld Afrikaanse Legendes:Cora Marie. Groete van die http://www.coramarie.co.za span. Shaun Mynhardt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.