Cordelia se kop staan kansel toe

Cordelia, haar verloofde, Kobus, en hulle vyfjarige seuntjie, Zavion. (Foto: Facebook)

Die blondekop-sangeres Cordelia se kop staan vanjaar uiteindelik kansel toe nadat sy en haar jarelange vriend, Kobus van Zyl, jare gelede reeds besluit het om mekaar die jawoord te gee.

Cordelia vertel aan Maroela Media sy is opgewonde dat die Here haar en Kobus uiteindelik verenig het en die paartjie beplan om in September vanjaar te trou. Hulle het ʼn vyfjarige seuntjie, Zavion.

“Kobus het sy gewese vrou aan kanker afgestaan en ons albei het ʼn lang pad gehad om te stap. Ons het egter besef die lewe is kort en ons is lief vir mekaar en vir ons kind – daarom gaan ons vanjaar uiteindelik die groot stap waag om in die eg verbind te word,” sê Cordelia, wat ook beplan om vanjaar nuwe musiek uit te reik.

Sy het in Januarie verlede jaar getref met die enkelsnit “Op my knieë” en is ook bekend vir liedjies soos “Mal in jou kop”, “Volmaak” en “Lepel in die dak wegsteek”.

Cordelia vertel sy en Kobus het in George in die Wes-Kaap by sy familie gekuier toe Kobus almal nader roep en aankondig dat vanjaar die groot jaar gaan wees waarin hy amptelik vir Cordelia sy bruid maak.

“Hy het vir almal gesê hy het my gevra om te trou en dat ek nog steeds met hom wil trou,” lag sy.

Sy deel ook graag haar vreugde met haar aanhangers, sê sy. “Ek voel in my hart dit is tyd dat almal moet weet ek is gelukkig en geliefd. Ek voel bevoorreg dat die Here ons gesin een gaan maak.”

Cordelia en Kobus van Zyl staan vanjaar voor die kansel. (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Linda ·

Nou waar pas Theuns Jordaan in die prentjie? Sy pa het dan gepraat van die blondekoppie wat al 8 jaar deel van Theuns se lewe was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.