Corne Louw: Debuut-album spog met moderne country-aanslag

Corne Louw se tweede enkelnsit ‘Maak of breek’ beloof om net so gewild soos die eerste liedjie van sy debuutalbum te wees. Foto: Verskaf.

Corne Louw, sanger en liedjieskrywer, is nie iemand wat sy musiek op die gewone manier aanpak nie. Sy liedjie “Date Night” is ʼn moderne country-pop-snit wat nie net heerlik is om na te luister nie, maar dit laat ook jou voete onwillekeurige jeuk om op die dansvloer te kom.

Louw het die liedjie saam met Hugo Ludik en Vaughan Gardiner geskryf is. Dit is ʼn snit wat aanklank sal vind by enige iemand wat in ʼn verhouding is. Volgens Louw herinner die snit paartjies juis daaraan om vir mekaar tyd te maak in vandag se gejaagde lewe.

“Die enkelsnit beteken vir my persoonlik baie, want ek en my vrou moes leer om tyd vir mekaar te maak nadat ons twee wonderwerkies gebore is. ʼn Tweeling hou ons heeltemal weg van die dinge wat ons as ʼn paartjie altyd saamgedoen het, maar ons sal hulle vir niks wil verruil nie,” sê hy.

Louw sê “Date Night”, wat ook die titel is van sy album, se musiekvideo sluit dan ook by hierdie boodskap aan.

“Die storie van hierdie video handel oor my eie lewe. Ek besef dat ons ʼn afspraakaand (date night) nodig het en soos wat ek die liedjie skryf, dink ek aan die perfekte afspraak saam met my geliefde,” vertel Louw.

Die album spog met dertien lekkerluister-kuierliedjies in Louw se kenmerkende moderne country-popmusiekstyl. Volgens hom is die album geïnspireer deur sy vrou en kinders en wou hy oor alledaagse gebeurtenisse skryf en ’n storie vertel.

“Ek weet dat mense die ‘bokkie-sokkie’ soort musiek geniet en daar is niks daarmee verkeerd nie. Dis net nie ek nie. Ek wou iets lewer wat inspireer en wat betekenis het.”

Alhoewel die meeste liedjies opgewekte ritmes het, is daar ook emosie in elke snit teenwoordig omdat baie daarvan staaltjies uit sy eie lewe vertel.

“Ek hoop dat elkeen wat na die album luister, hom/haar sal kan vereenselwig met die lirieke en dat dit weer aan hulle hoop en moed sal gee vir die toekoms,” sê hy.

Louw woon in Langebaan aan die Weskus en het die kuns bemeester om gehore in die palm van sy hand te hou met sy veelsydigheid en hartlike verhoogpersoonlikheid. Hy kom uit ’n familie vol musikante en glo dat musiek deur sy are vloei. Hy en sy pa speel nou nog so af en toe saam kitaar.

Sy ouerhuis was altyd vol musiek, veral Amerikaanse Country-snitte, en dit is waar sy liefde en passie daarvoor gebore is. Alhoewel hy homself (met die hulp van sy tannie) leer kitaar speel het, en hy deel was van die Supernovas, het hy eers saam met sy pa ’n sakeonderneming begin voordat sy solomusiekloopbaan, wat in 2004 afgeskop het, amptelik vlam gevat het.

Sedertdien het hy al by verskeie feeste, waaronder die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en Robertson’s Wacky Wine Festival en plekke soos Route 66 en Ocean Basket en by funksies opgetree het, sien hy daarna uit om deur die land te toer en sy musiek aan nóg nuwe luisteraars bekend te stel.

Wanneer Louw nie besig is om liedjies te skryf of op te tree nie, hou hy ook daarvan om kitare te versamel en deel hy ook dat hy graag ’n argitek of ingenieur sou wou wees as musiek nie vir hom uitgewerk het nie.

“Ek is mal oor kitare en het ’n hele versameling Gibsons en Fenders, alhoewel ek nie noodwendig die beste kitaarspeler is nie,” vertel hy met ’n vonkel in sy oog.

Corne Louw glo, net soos die Amerikaanse sanger en liedjieskrywer George Jones, in eerlike musiek en dat musikante getrou moet wees aan hulself, omdat aanhangers dit dan meer waardeer. Die vars benadering en inspirerende vertolking van “Date Night” en sy unieke stem, is die perfekte pasmaats vir ’n eindproduk wat nie net ’n vernuwing gaan veroorsaak in die Afrikaanse musiekmark nie, maar ook diep in musiekliefhebbers se harte gaan nesskop.

Die album kan nou bestel word by www.cornelouw.co.za

  • Corne Louw het onlangs in Maroela Media se ateljee kom kuier en gesels oor sy eerste album. Luister na die volledige onderhoud met Esté Meyer Jansen bo-aan hierdie berig.

Kyk hier na “Date Night” se musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.