Countrykeys- Rocco de Villiers

CountrykeysSedert Rocco de Villiers se album Beautiful beautiful piano ‘n paar jaar gelede vrygestel is, het hy homself as een van die voorste klavierspelers in die land gevestig.
Met sy nuwe album, Countrykeys, het hy besluit om terug te gaan na die musiek van sy grootwordjare, maar ook ‘n paar nuwe komposisies en meer onlangse treffers ingesluit. Die eerste snit is ‘n nuwe komposisie met die slim titel, Roccobilly. Dit behoort ‘n treffer te word en sy musiek aan ‘n breër gehoor bloot te stel. Die eerste bekende snit op die album is Jennifer Rush se nr. 1-treffer The power of love. Country roads was ‘n treffer vir John Denver, en Rocco het besluit om by die oorspronklike styl te hou, en dit nie te verander in ‘n partytjieliedjie soos wat DJ Otzi gedoen het nie. Cavatina was die tema van die rolprent The deer hunter. Gewoonlik word dit op ‘n kitaar gespeel, en daar is ‘n gedeelte wat deur Mauritz Lotz gespeel word. ‘n Groot verrassing is die insluiting van How could an angel break my heart, wat ‘n treffer vir Toni Braxton saam met die saksofoonspeler Kenny G was. Nog ‘n aangename verrrassing is Hoe groot is U, wat jou sommer dadelik sal laat saamsing. Coming home is die volgende oorspronklike komposisie op die album, en weer eens sal dit by ‘n groot gehoor byval vind. Crazy is seker een van die grootste country-treffers tot nog toe; Willie Nelson het dit geskryf en Patsy Cline het ‘n treffer daarme gehad. Sedertdien het baie kunstenaars dit al opgeneem. Op Rocco se weergawe bespeel Sez Adamson die padaal-staalkitaar, wat natuurlik by hierdie soort musiek pas.
Nog twee oorspronklike komposisies is volgende op die album, naamlik I do, we did en Jozi Ma sweetie. Daar is egter een snit wat kop en skouers bo die res uitstaan. Jim Muller was een van ons land se voorste klavierspelers, en hoewel hy reeds in 1962 oorlede is, het sy musiek die toets van die tyd deurstaan. Daarom is dit goed dat ‘n hedendaagse klavierspeler besluit het om hulde aan hom te bring deur sy Keurspel nr. 1 op te neem. Rocco se weergawe is iets besonders, en dis goed dat dit die snit is waarvan daar ‘n musiekvideo gemaak is. Some broken hearts never mend is oorspronklik deur Don Williams gesing, maar die Kojak-akteur Telly Savalas het ook ‘n treffer daarmee gehad. Unieke bekoring is die laaste oorspronklike komposisie op die album. When you tell me that you love me was oorspronklik ‘n treffer vir Diana Ross, en dit bly mooi, maak nie saak wie dit opneem nie. Die tema van Binnelanders is baie bekend, en dis snaaks dat ‘n instrumentale weergawe daarvan nou eers opgeneem is. Die laaste snit op die album is Nat King Cole se immergewilde When I fall in love.
Daar is sommige mense wat van mening is dat instrumentele kunstenaars nie juis oorspronklik of verbeeldingryk is nie. Net soos Johan van Rensburg het Rocco egter bewys dat dit nie die geval hoef te wees nie. Hierdie album bevat ‘n goeie verskeidenheid van bekende en nuwe snitte, en daar kan nie juis fout met die vertolking daarvan gevind word nie. Hopelik sal Rocco groot sukses met hierdie album behaal, en gaan al hoe meer mense van hom kennis neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.