Covid-19: Sanger pleit vir verantwoordelike optrede

‘n Skermgreep uit die musiekvideo.

Pierre Nel beklemtoon met sy jongste enkelsnit en musiekvideo, “If you get corona”, dat die toekoms en voortbestaan van die mensdom nou op almal se skouers rus.

Die sanger en mediese dokter vra in dié liedjie dat mense nou verantwoordelik moet optree en die nodige voorsorgmaatreëls moet tref om die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

“Ek het ‘If you get corona’ geskryf om mense se oë oop te maak. Ek wil hê hulle moet die erns van die situasie besef. Tog hoop ek ook dat dié lied ʼn bydrae sal maak om ons as ʼn nasie te verenig in hierdie tyd van afsondering,” verduidelik Nel.

In die snit word die virus verduidelik en die luisteraar word die vraag gevra of hy of sy die las op hul skouers wil hê dat hulle met hul onverantwoordelike optrede dalk iemand anders kan aansteek met Covid-19, en selfs hul dood veroorsaak.

“Ek hoop hierdie lied raak mense se harte aan en het ʼn direkte invloed op hul gedrag.

“As mediese dokter is ek self ook erg bekommerd oor die mediese stelsel se vermoë om massas pasiënte te versorg,” sê Nel.

Die musiekvideo is reeds deur Jacaranda FM in die Jakarandastad uitgereik en vertel die storie van twee persone wat mekaar motiveer om hande te was en eerder te selfisoleer.

“As die twee karakters hulself in die buitewêreld bevind, tree hulle ook sommer op as ʼn soort ‘infeksiebeheerpolisie’ wat ander landsburgers oplei in en inlig oor die voorkomingsmaatreëls teen Covid-19.

“Ek hoop dat die twee karakters in die musiekvideo se entoesiasme mense sal motiveer om positief te bly oor die hele situasie rondom die pandemie, en almal sal aanmoedig om saam te werk om die virus te help bekamp,” sê Nel.

Nel, wat as dokter planne het om in narkose of oogheelkunde te spesialiseer, se enkelsnit “Mis jou” is ook onlangs uitgereik. Maroela Media het berig dit handel oor die verlange na ʼn geliefde terwyl dit luisteraars laat verstaan dat die soort liefde wat in storieboeke gevind word, wel in die werklike lewe ook bestaan.

“If you get corona” kan nou landwyd oor die radio se luggolwe gehoor word en is op al die digitale musiekplatforms beskikbaar.

Volg Nel op sosiale media by Facebook, Twitter en Instagram.

Maroela Media se lesers kan die musiekvideo hier kyk:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.