Daar kom die Alibama

Daar kom die Alibama

Foto verskaf aan Maroela Media

Die Kaapse Klopse is ʼn eg Suid-Afrikaanse tradisie wat al jare bestaan en ʼn ryk geskiedenis het. Die Kaapse Klopse vind gewoonlik plaas op die tweede dag van die nuwejaar en hierdie kultuurryke gebeurtenis word al  ʼn eeu lank in Kaapstad aangebied. Dié fees het twee wêreldoorloë en apartheid oorleef.

Die geleentheid word gekenmerk deur vrolike sang, uitspattige uitrustings en danspassies. Dit het ontstaan gedurende die tyd van slawerny toe slawe vir hul meesters uitrustings gemaak en die oorskiet materiaal gebruik het om vir hulself kleurryke uitrustings te maak. Die oggend van die optog kom al die lede by die groepleier se huis bymekaar en die laaste verstellings word gemaak. Daarna word die gesigte geverf sodat dit by die uitrustings pas. Van oud tot jonk neem deel aan die Klopse.

Die optog begin in Distrik Ses, vanwaar dit draai in die Bo-Kaap en eindig met ʼn kompetisie by die Kaapstad-sokkerstadium. John Manson, ʼn geskiedkundige by die Universiteit van Virginia in die VSA, beweer die Klopse het ontstaan deur ʼn groep wit Amerikaners in die 1800’s, wat bekend gestaan het as die Christy’s Minstrels. Hulle het liedjies van die Afrikaslawe gesing en hul gesigte swart geverf. Die groep het so gewild geraak, dat hulle deur Europa en Suid-Afrika getoer het.

Kaapse inwoners het die skip waarop hulle gereis het, die Alibama, herken en groot opgewondenheid het geheers. Wanneer die skip die hawe binnegeseil het, het die inwoners uitgeroep “daar kom die Alibama” en so het een van ons bekendste FAK-liedjies sy ontstaan gehad.

Die slawe in Suid-Afrika het dadelik aanklank gevind by die Minstrels en hul eie tradisie begin op elke tweede Nuwejaarsdag wanneer die slawe vir een dag van die jaar vry was. So het hulle dan feesgevier. Vryheid is gevier en tydens die geleentheid is almal gelyk, of jy wit, swart of bruin is en of jy ʼn dokter, onderwyser of werkloos is, almal word op die dag een.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alibama van Potch ·

Weet iemand dalk wat van die Alibama sanggroep van Potch universiteit geword het? Baie jare terug was hulle so gewild maar ek hoor lankal nie meer van hulle nie, is dit gestop en hoekom?

Nico K ·

Daar is baie teorië (hoewel die meeste nie die een aanvaar dat dit na die Amerikaanse oorlogskip verwys nie.) Maar ek glo dat dit onmoontlik is om 100 jaar later te bewys waar ‘n liedjie se naam vandaan kom.

En ja Alibama van Potch, ek het ook agtergekom hy het so stil stil verdwyn. Ons het dit graag bygewoon. Maar dalk het hulle kykergetalle gedaal dat dit nie meer die moeite werd was nie. Sal graag wil weet wat die amptelike rede was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.