Dana Winner kom weer SA toe

Dana-Winner

Dana Winner. Foto: Danawinner.com

Die bekende Belgiese sangeres, Dana Winner, gaan by vanjaar se Kersfees Skouspel in die Sun Arena in Pretoria optree.

Winner se band met Suid-Afrika strek al langer as ’n dekade, en dié sangeres vier haar loopbaan van drie dekades in 2019. Sy het reeds meer as 3,5 miljoen albums verkoop, verskeie toekennings ontvang en die trefferparades gehaal in haar tuisland, België, asook in Nederland, Noorweë, Denemarke, Swede, Duitsland, Oostenryk, Switserland en natuurlik Suid-Afrika.

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra, het gesê hy is baie opgewonde dat Winner ingewillig het om as gaskunstenaar by Kersfees Skouspel op te tree.

“Ons het tien jaar gelede ’n wonderlike toer met Dana Winner gedoen. Ons het 25 vertonings in 30 dae gedoen – almal uitverkoop! Sy is seker een van die talentvolste sangeresse in die wêreld en ons is baie bevoorreg om haar weer in Suid-Afrika te verwelkom.”Winner het gesê sy kan nie wag om weer al haar Suid-Afrikaanse aanhangers en vriende te sien nie.

“Suid-Afrika was nog altyd so ’n belangrike deel van my loopbaan en persoonlike lewe. Julle het steeds ’n spesiale plek in my hart. Juis daarom kan ek nie wag om in hierdie spesiale Kersfeesproduksie vir al die Suid-Afrikaners te sing nie.

“Ek kan nie wag om die verhoog te deel met al julle wonderlike Suid-Afrikaanse sangers nie. Wat ’n voorreg om weer in Suid-Afrika op te tree!”

Winner gaan die Kersfees Skouspel-verhoog met meer as 18 van Suid-Afrika se topkunstenaars deel in die ware Boney M-styl van Kerskonserte. Die Suid-Afrikaanse kunstenaars wat die verhoog met Winner sal deel, is onder andere Amanda Strydom, Anna Davel, Brendan Peyper, Chris Chameleon, Helene Bester, Die Broers en Jannie Moolman.

Swart is baie opgewonde oor die sterk span sangers en musikante wat gaan optree. “Deur die jare was Kersfees Skouspel nog altyd ’n skouspel van klank, kleur, kostuums, musiek, sang en beslis van Kersmusiek. Kersfees is ’n wonderlike tyd met die viering van Jesus se geboorte en dit is ’n voorreg om hierdie produksie net voor Kersfees aan te bied,” het hy gesê.

Vanjaar se Kersfees Skouspel word op 16 Desember om 15:00 aangebied. Besprekings kan hier gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Penellope Jones ·

Pragtige stem en ‘n vrou met ‘n pragtige persoonlikheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.