Danie Bosman-musiekblyspel stof ou treffers af

Ou Musikant: Die Danie Bosman Storie. Foto: Twitter via Marlie Katzke

Ou Musikant: Die Danie Bosman Storie. Foto: Twitter via Marlie Katzke

Die musiek en verhaal van Danie Bosman, komponis, sanger en pionier van Afrikaanse musiek in die 1930’s en 1940’s, herleef binnekort in die Drostdy-teater in Stellenbosch.

Bosman se komposisies is destyds onder andere deur die orkesleier Hendrik Susan by danse, musiekkonserte en vir die radio opgevoer. Dit was veral dié blootstelling wat sy musiek in Suid-Afrikaanse huise bekendgemaak het.

Ná die bekendstelling van die Danie Bosman-CD verlede jaar kan aanhangers nou uitsien na ʼn musiekspel genaamd Ou musikant – Die Danie Bosman storie. Dié produksie open op 7 Februarie en val saam met Bosman se geboortedag.

Die verhaal, geskryf deur Ingrid Howard, vertel van Bosman se vrou, Dorothy, se deernis en liefde vir Danie en sy musiek. Howard bring hulde aan Bosman en sy reuse-bydrae tot Afrikaanse musiek. Dié produksie was in 2013 ook op die Woordfees te sien.

Die sangers André Terblanché en Marlie Katzke vertolk die rolle van Danie en Dorothy Bosman in samewerking met ʼn orkes saamgestel uit Shaun Johannes (musiekregisseur/klavier), Hano Smit (kitaar), Kris Smit (tromme), Renate Riedemann (viool), Byron Abrahams (saxofoon) en Sean Sanby (bas).

Bekende Afrikaanse liedjies uit die pen van Bosman soos “Oom Bossie van die Bosveld”, “Daar onder in die Kaap”, “Boereseun”, “Kaapse draai” en “In die skadu van ou Tafelberg” is deel van dié produksie.

Ou musikant – Die Danie Bosman storie is te sien vir agt vertonings van 7 tot 14 Februarie in die Drostdy-teater. Kaartjies kos R120. Bespreek by [email protected] of skakel 087 943 2459.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.