Dans in die reën- Touch of Class

Dans in die reënNadat Ronell Erasmus 23 jaar lank saam met Deon van der Merwe deel van Touch of Class was, het sy besluit om haar op Christelike musiek toe te spits, en is sy deur Ruhan du Toit vervang.

Deon en Ruhan het verlede jaar hul eerste album, Koffiefontein, vrygestel, maar dit is onlangs onder die titel Dans in die reën heruitgereik. Daar is een belangrike rede daarvoor, maar meer daaroor later. Die eerste snit, My prinses, is een van ‘n aantal nuwe komposisies deur Arri Opperman, wat al vir verskeie kunstenaars liedjies geskryf het en die sangpaar Glanz saam met Samantha Leonard gevorm het. Dit is onmiddellik duidelik dat Ruhan se stem ‘n baie groot verskil maak; hy het ‘n goeie vokale reikwydte en kan byna enige tipe liedjie sing. Koffiefontein is nog een van Arri Opperman se nuwe komposisies wat verdien om ‘n treffer te word. Deel van Touch of Class se resep was nog altyd om nuwe en bekende liedjies op te neem. Die eerste bekende snit op die album is ‘n verrassing; Brandi Carlile se pragtige treffer The story. Hier stel Ruhan sy uitstekende vokale reikwydte baie goed ten toon, en hierdie opname is enige tyd so goed soos die oorspronklike een. Die volgende snit is ‘n keurspel van Neil Diamond se treffers, wat bestaan uit America, Desiré, Cracklin’ Rosie en Longfellow serenade.

Die titelsnit is ‘n juweel. Dit is nog een van Arri se komposisies en dit is maklik om te verstaan hoekom dit so gewild geword het. Dit is sonder twyfel die heel beste snit wat Touch of Class nog ooit opgeneem het. Die musiekvideo, waarin die akteur Lieb Bester te sien is, verskyn onderaan. Op Vir ewig en altyd sing Benice Bornman saam met Ruhan. Benice is die kitaarspeler Hennie de Bruyn se dogter en haar man, Sias, het dit geskryf. Benice het tot dusver nog net Christelike musiek gsing, maar sy kan gerus meer gereeld uit haar “gemaksone” beweeg. Die akteur Hennie Jacobs (Diederik in 7de Laan) is ook ‘n talentvolle sanger en liedjieskrywer en hy het Langpad geskryf. Dit is ‘n goeie snit, en sal diegene wat Hennie onderskat, twee keer laat dink. Die volgende bekende snit is Keith Urban se groot treffer Somebody like you, waarop Deon die banjo speel. Vat ‘n kans is weer eens ‘n komposisie van Arri Opperman, en dit bewys dat hy ook rustige liedjies kan skryf. Arri het Ek staan met trots ook geskryf, en dit is ‘n moontlike treffer. Engiemand wat trots is op Afrikaans sal hiervan hou. Bucks Fizz se treffer Making your mind up het in 1981 die Eurovision-liedjiekompetisie gewen en ‘n treffer in Suid-Afrika geword. Dit is goed om ‘n nuwe opname daarvan te hoor. Die voorlaaste nuwe snit is Kyk na my hart, wat ook al radiolugtyd gekry het. Hotel Calfornia van The Eagles is een van daardie tydlose treffers waarvoor ‘n mens nooit moeg sal word nie. Deon se kitaarspel op Touch of Class se opname is eenvoudig skitterend.

Brown-eyed girl was ‘n groot treffer vir Van Morrison en dit word vandag nog baie gereeld gespeel. Daarom is dit seker nie snaaks dat Touch of Class dit een of ander tyd sou opneem nie. Nog ‘n tydlose treffer is Piano man van Billy Joel, waarop Ruhan mondfluitjie speel. Touch of Class se opname is omtrent net so goed soos die oorspronklike een. Die eerste van twee instrumentale snitte op die eerste CD is die bekende Zorba the Greek, wat jou sommer laat lekkerkry. Weer eens is Deon se uitstekende kitaarspel die rede hiervoor. Jak de Priester se Roer jou voete is een van die lekkerste Afrikaanse liedjies wat in ‘n baie lang tyd verskyn het. Sommige mense sal dalk dink dat die liedjie te nuut is om weer opgeneem te word, maar wat maak dit saak? Touch of Class se opname is weer eens baie goed, en dit sal veral tydens verhoogoptredes baie gewild wees. Die laaste oorspronklike snit op die album is Op die tafels, wat maklik ook ‘n treffer kan word. Veral ouer luisteraars sal bly wees dat Billy Vaughan se groot instrumentale treffer Wheels ingesluit is.

Die rede vir die heruitreking van die album is die insluiting van die bonus-CD Salute to the legends. Dit is ‘n voorsmakie van ‘n reeks CD’s waarop hulle van plan is om hulde aan verskeie bekende kunstenaars te bring. Die eerste snit is Mexican girl, wat ‘n groot treffer vir Smokie was. Die eerste van twee Afrikaanse snitte op hierdie CD is Sias Reinecke se Klein Karoo. Daar gaan een CD wees waarop Demis Roussos en Joe Dolan se musiek gaan voorkom, en Demis se treffer My friend the wind is hier ingesluit. Hier kan ‘n mens nie anders as om Touch of Class se weergawe te verkies nie. Die tweede Afrikaanse snit is Gé Korsten se legendariese treffer Liefling. Hier probeer Ruhan ongelukkig net ‘n bietjie te hard om soos Gé Korsten te sing. Elvis Presley se laaste nr. 1-treffer, Suspicious minds, is al deur verskeie kunstenaars opgeneem, en dit behoort niemand te verbaas dat dit hier ingesluit is nie. Die volgende snit is ‘n keurspel van byna tien minute van Cliff Richard en The Shadows se treffers, onder meer Apache, The young ones, Lucky lips en Summer holiday. Bye bye love is deur The Everly Brothers en Simon and Garfunkel opgeneem, en Touch of Class se opname is baie goed. ‘n Lekker verrassing is Chuck Berry se bekende treffer Johnny B Goode. Ruhan se stemkwaliteit op Kenny Rogers se treffer The gambler is baie goed, en gelukkig probeer hy nie te hard om soos Kenny Rogers te klink nie. Deon het al voorheen hulde gebring aan die kitaarspeler Ricardo Bornman, en Ressano Garcia op daardie album ingesluit. Deon se vertolking van hierdie bekende kitaartreffer is egter steeds uitstekend. Daar is twee snitte wat nie op enige van die Salute to the legends-CD’s gaan voorkom nie, maar tog ingesluit is. Die eerste een is Cry to me, wat hulle in dieselfde styl as The Staccatos opgeneem het. Die tweede een is Journey se , wat deesdae weer baie gereeld oor die radio gespeel word.

Ronell se besluit om Touch of Class te verlaat, was die beste ding wat met dié groep kon gebeur het. In die verlede was daar genoeg rede om dié groep se musiek te kritiseer, omdat hulle hoofsaaklik bekende liedjies met swak Afrikaanse lirieke en ander belaglike liedjies gesing het. Nou het dit egter verander. Nie net kan Ruhan feitlik enige soort liedjie sing nie, maar veral Arri Opperman het ‘n groot bydrae tot hierdie album se sukses gelewer. As dit die standaard is wat Touch of Class voortaan met hul musiek gaan stel, gaan hul musiek by ‘n groter gehoor byval vind en sal hulle hul naam eindelik gestand kan doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.