De Luxe-album- Hulle

De Luxe albumWat is die mees oorspronklike naam vir ‘n sangpaar of –groep wat jy al ooit gehoor het?

Johan Oberholzer het die afgelope jaar jaar bekendheid as liedjieskrywer verwerf, en treffers vir heelwat Afrikaanse kunstenaars, onder meer Kurt Darren, Andriëtte Norman en Dewald Louw, geskryf. Hy en Wilmari Rautenbach het egter verlede jaar besluit om ‘n sangpaar te vorm, met die mees eenvoudige, maar oorspronklike naam denkbaar. Johan en Wilmari staan saam bekend as Hulle (ja, dis reg!), en ‘n De Luxe-weergawe van hul debuutalbum is pas vrygestel.

Die eerste snit, Stemme, is baie kort, en niks anders as die inleiding tot hul groot treffer Laaste asem nie. Hierdie liedjie het die laaste tyd baie gewild geword op troues, en as ‘n mens na die woorde luister, is dit maklik om te verstaan hoekom. Johan het dit geskryf, en dit het een van die grootste treffers van die afgelope jaar geword. Falsetto is ‘n mooi snit wat verdien om ‘n radiotreffer te word. Daar is akoestiese weergawes van hierdie twee snitte op hierdie weergawe van die album ingesluit. Al wat jy gaan kry is ‘n lekker country-snit wat al radiolugtyd gekry het; die woorde is lekker hardekwas en as dit ‘n treffer word, sal dit nie ‘n verrassing wees nie. In my gatsak is baie dieselfde, dit gaan oor ‘n man wat ‘n meisie bel nadat hy haar beursie optel, en dan op haar verlief raak nadat hy haar ontmoet. Dit klink dalk onrealisties, maar hierdie tipe ding gebeur. Seermaak is nie liefde nie se boodskap is effens ernstig, en dit gaan oor ‘n vrou wat deur haar man mishandel word. Storm voort is ‘n baie sterk snit wat beslis ‘n treffer behoort te wees.  As jy by haar gaan slaap vanaand is nog ‘n baie goeie spanpoging; weer eens kan dit ‘n treffer word.  Hoop is ‘n inlieiding vir Die robbe-liedjie. Johan en Wilmari kom uit Namibië, en hul liefde vir hul geboorteland kom baie duidelik in hierdie snit na vore. Ek haat dat ek jou so liefhet is nog ‘n snit wat al radiolugtyd gekry het, en baie mense kan hulle met hierdie lirieke kan vereenselwig.  Die boodskap van Almal is mens is dat jy vir jou medemens moet omgee; dit is iets wat ons almal soms vergeet. Die woorde herinner aan Phil Collins se Another day in paradise. Die einde is weer eens ‘n baie kort snit, ‘n inlieiding vir die nuwe treffer Bordkryt-graffiti. Hierin vertel hulle die storie van twee mense wat van kleins af al bymekaar is.  Die laaste snit voor die twee akoestiese weergawes van Falsetto en Hulle asem is Super Dad, opgedra aan pa’s met mooi dogters. Soos hulle self sê, is dit nie veronderstel om ernstig opgeneem te word nie. Die akoestiese weergawes van Laaste asem en Falsetto is baie goed.

Op die DVD, wat saam met die CD kom, is die musiekvideo van Laaste asem ingesluit, asook ‘n paar episiodes van die werklikheidsreeks Kyk ‘n biekie, waarop hulle die storie agter die album vertel het. Hierdie reeks kan gerus in sy geheel op DVD uitgereik kan word.

Hulle is seker is een van die beste sangpare wat die afgelope tyd op die musiektoneel verskyn het, en hierdie album sal by ‘n groot gehoor byval vind. Dit is seker een van die lekkerste Afrikaanse albums wat die afgelope tyd verskyn het, en kan sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.