Deon Meiring: ‘Geroep’ as musikant om sy boodskap uit te dra

Deon Meiring. (Foto: Etienne Swanepoel)

Deon Meiring is iemand wat iets het om te sê. Hy is ʼn musikant en storieverteller in murg en been wat altyd poog om eerlikheid en opregtheid in sy lirieke en melodieë te weerspieël.

Meiring het op ʼn jong ouderdom reeds naam gemaak in die Afrikaanse musiekbedryf as voorsanger en liedjieskrywer vir die musiekgroep Glaskas. Hy was in graad 9 toe die groep gevorm is en in graad 11, slegs 17 jaar oud, toe hulle uiteindelik op Afrikaanse musiekliefhebbers se radar verskyn het.

Hy glo sy toetrede tot die musiekbedryf op ʼn jong ouderdom het sy lewenspad gebaan. “Deur vroeg te begin het ek die kans gehad om baie te eksperimenteer en namate ek ouer word te besef ek wil steeds musiek maak. Ek beskou myself eerstens as liedjieskrywer.”

Sy jongste uitreiking, getiteld “Lyntjies T-hemp”, verskyn in sy kortspeleralbum Grensbewoner, wat ses snitte bevat.

“Grensbewoner” is ook die titel van die liedjie uit Meiring se pen wat onlangs die temalied vir die kykNET-reeks Kompleks geword het. Die liedjie is in 2018 al geskryf as deel van sy Maandeinde-projek.

Met dié projek het die liedjieskrywer gepoog om vir sowat ʼn jaar ʼn nuwe, oorspronklike komposisie uit te reik aan die einde van elke maand.

“Ek hou van projekte waar ek myself kan uitdaag om toegewyd iets te doen op ʼn sekere tyd. Daar is egter altyd met so ʼn projek ʼn oomblik dat ek dink ek het niks meer om te sê nie en dan wil ek kop uittrek. Dit is dikwels in daardie oomblikke dat jy gedwing word om dieper te delf. Ek dink nie ek sou sommer oor iets soos ʼn hemp met lyntjies geskryf het as ek nie myself moes druk nie.

Deon Meiring. (Foto: Etienne Swanepoel)

“‘Lyntjies T-hemp’ het ʼn dieper liedjie geword oor identiteit, wat eerlik en opreg oorgedra word en gestroop en eenvoudig is. Dit sê iets oor wie ek is en ek hou baie daarvan.”

Meiring vertel hy het as voormalige teologiestudent dit soms moeilik gevind om sy geloofsoortuigings uit te daag en te bevraagteken. Hoewel hy nie beplan om in die bediening te tree nie, voel hy steeds geroep om as musikant sy boodskap uit te dra, sê hy.

“My ma werk al donkiejare lank in die kantoor van ʼn kerkgemeente en ek is van kleins af baie nou aan die kerk en die binnewerke daarvan blootgestel. Dit het my eie belangstelling in daai wêreld geprikkel.

“As kind het ek altyd gesê ek wil eendag ʼn sendeling wees. Nou spot ek altyd en sê as musikant is my lewe baie soos dié van ʼn sendeling: Ek reis baie, ek het min geld en ek het ʼn boodskap,” skerts hy.

Byna twee dekades later maak hy en Glaskas steeds saam musiek. “Ek is tans in Wellington en die res van die ouens in Pretoria, so dit maak dit ʼn bietjie moeiliker. Baie mense dink ons is uitmekaar, maar ons speel steeds saam wanneer ons die geleentheid kry.”

Meiring vertel hy en sy vrou, die kinderboekillustreerder en grafiese kunstenaar Zinelda McDonald, lei ʼn rustige lewe in die Boland saam met hulle twee katte.

“Ek hoor dikwels dat ek laid-back voorkom en tot groot mate is ek. Miskien is dit omdat ek van die Oos-Kaap afkomstig is vanuit Humansdorp naby Jeffreysbaai. Ek hou van stories vertel en het baie selfvertroue agter ʼn mikrofoon, maar by die huis of om die braaivleisvuur is ek gewoonlik die stiller ou. Ek geniet dit om alleen te wees, te lees en net weer my energie te herlaai, maar ek het ook ʼn avontuurlustige kant.”

“Lyntjies T-hemp” is beskikbaar op alle digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jacques ·

Hierdie man het n juweel stem, ek wens hom groot hoogtes toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.