Deon Meiring se liedjies ‘opreg soos gebede’

Deon Meiring. (Foto: Blyde Smit)

As jeugpredikant en teoloog inspireer Deon Meiring hoërskoolkinders met sy preke en geestelike leiding. As musikant inspireer hy sy luisteraars met opregte, eerlike musiek.

Deon is al bykans twee dekades deel van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en skryf nie net vir homself nie, maar ook vir groepe soos Glaskas en Dans Dans Lisa.

Sy jongste kortalbum getiteld, Gebede en briewe, is ʼn versameling van vier snitte wat almal met mekaar praat en ʼn diep, geestelike oorsprong het, vertel hy.

“In die wynlande praat hulle van ʼn versnit. Hierdie album is ʼn viersnit. Elkeen van die liedjies het beslis ʼn geestelike tema.”

Hy voeg by dat hy slegs vier liedjies vir die kortalbum gekies het, aangesien dit volgens hom die vier liedjies is wat die beste by mekaar pas.

“Weerloosheid is ook ʼn deurlopende tema in die liedjies. Baie van ons kyk na ander mense en wonder of ons goed genoeg is. Met die liedjies erken ek dat ek soms bang en onseker is, maar wanneer ek my gevoelens hieroor erken, hanteer ek dit beter. Dit is wat dit is om menslik te wees.”

Deon en sy vriend, Callie Steyn, het ‘n koffiestalletjie begin. (Foto: Instagram/Deon Meiring)

“Gebede en briewe” is ook die titelsnit van die album. “Ek het ʼn fassinasie met briewe. Dat ʼn mens ʼn brief kan skryf en stuur, maar dat dit nie altyd opdaag waar dit moet wees nie. ʼn Liedjie is dieselfde in die sin dat dit ook die wêreld in gestuur word en beland waar dit moet wees.”

Gebed is soortgelyk, verduidelik hy. “Dit sê baie van wat binne my aangaan. ʼn Gebed is opreg, net soos ʼn liedjie, en dwing my om ʼn deel van myself te wys soos ek nie andersins sou nie.”

Deon en sy vrou, Zinelda, het in 2019 van Johannesburg af na Wellington in die Wes-Kaap verhuis. “Ek het die ruimte hier om musiek te maak en op die platteland te woon terwyl ek nie te ver van die lughawe af is nie.”

Hy vertel hy geniet veral die omgewing se gemeenskap en die kunstenaarsgees van die dorp. Deon is werksaam as jeugpredikant, maar is ook onder meer betrokke by die Tuin van Digters-fees, wat gesprekke en werkswinkels oor digkuns aanbied.

Hy en ʼn vriend het ook onlangs ʼn koffiestalletjie naby ʼn hoërskool begin. “Ek is doenig met ʼn hele paar goed, maar musiek is nog steeds my hoofbron van inkomste en ek is baie bevoorreg om dit te kan sê. Ek is dankbaar vir al die mense wat my as kunstenaar ondersteun.”

Gebede en briewe is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.