Derde treffer vir Jo Black op Top-20

Jo Black is terug met ‘n nuwe trefferlied. (Foto: Facebook)

ʼn Derde Jo Black-lied het vandeesweek sy buiging op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 gemaak.

Die rasperstemsanger se nuutste enkelsnit, “Vegter”, wat ook die titel van sy jongste album is, het vandeesweek die treffersparade betree.

Twee ander liedjies van dié album, naamlik “Sê my mamma” en “Staan vas”, pronk ook tans op die trefferlys.

Die broer-duo Droomsindroom se treffer “Hey Sonneblom” is na ses weke steeds nie van die topposisie onttroon nie.

Bernice West en Ilán van Staden se lied, “Soen my op my mond” – wat ook op die klankbaan van die musiekblyspel Die Gelofte is – het vandeesweek met twee plekke geklim.

West en Van Staden vertolk die rolle van die jong verliefdes Maria en Christiaan in dié treffende musiekblyspel wat verlede Sondag sy laaste vertoning by die AfriForum Teater in Pretoria gehad het.

Franja du Plessis se “My Lief” en Lianie May se “Bietjie Benoni” was onder die drie liedjies wat ook vandeesweek geklim het terwyl elf liedjies onveranderd bly en vyf daal.

  1. Droomsindroom – “Hey Sonneblom”
  2. Riaan Benade & Jay – “Rowwe bliksem”
  3. Brendan Peyper en Minke Brits  –  “Meisies en ouens soos jy”
  4. Bernice West – “Jona”
  5. Eloff – “Johnnie Blou”
  6. Bernice West en Ilán van Staden – “Soen my op my mond”
  7. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  8. Riaan Benade – “Spontaan”
  9. Lianie May – “Bietjie Benoni”
  10. Jo Black – “Sê my mamma”
  11. Brendan Peyper – “Meisies soos jy”
  12. Elandré – “Hand aan hand”
  13. Jo Black – “Staan vas”
  14. Franja du Plessis – “My lief”
  15. Snotkop – “Tsek!”
  16. Rooksein – “Genade nader”
  17. Appel – “Dina”
  18. Jo Black – “Vegter”
  19. Christia Visser – “Handgranaat”
  20. Ivan Roux – “Opsoek na liefde”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings

Wikus Botma, beter bekend vir sy treffer “Brannewynlippe”, het pas sy nuutste enkelsnit, “Blou”, bekendgestel. Volgens Botma is “Blou” ʼn kragballade en perfekte stadige vasdans-lied.

Janie Bay deel ook meer oor haar eie reis in haar jongste lied, “Lewens”.

“Soms werp jou passie en werk nie dadelik vrugte af nie, maar jy moet net aanhou,” sê die sanger oor haar nuutste treffer.

“Dit gaan ook daaroor om ʼn goeie mens te wees vir ander, om moed te hou en om uit die moeilike dinge van die lewe te leer.”

Bay wou ook nog altyd haar eie musiekvideo vervaardig met ou video’s uit haar lewe en danksy die hulp van ʼn paar vriende kon sy dit regkry. Die lied se gepaardgaande musiekvideo bevat video’s uit die sanger se kinderdae en wys ook van haar familielede. Sy beskryf dit dus as ʼn ode aan haar pa, albei haar oumas asook haar oorlede tannie.

Ander liedjies wat die afgelope week vrygestel is, is Francois van Rensburg se “Dromerlaan”, Egmond se “Encore (op die radio)”, Klipwerf se “Laat my los”, Frans Karoo se “O, God” en Byron Minnie se “Tienduisend keer”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dean ·

Franja se “Gee my `n Boerseun” is nie op die top 20 nie maar julle sê dit het geklim, julle praat van “My Lief.” ;)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.