Desember-liefde- Amoré

Amore - Desember LiefdeHoewel Amoré se eerste album, Kamermuur, verlede jaar uitgereik is, het sy nog nie eintlik veel sukses behaal buite die Wes-Kaap waar sy vandaan kom nie.

Nou is sy egter terug met Desember-liefde, en die vraag is of dit hierdie keer gaan verander.  Die musiekvideo van die eerste snit op die album, Jy’s besonders, is al op Jukebox gewys, en sy was ook al ‘n ateljeegas in dié gewilde musiekprogram. Dit is ‘n komposisie van Anton Botha, en dit behoort haar deurbraak in die musiekbedryf te wees. Anton was ook verantwoordelik vir die volgende  snit, Belowe jy, en dit is dalk selfs nog beter. Reënboogstories is weer eens is dit ‘n goeie snit wat ‘n treffer behoort te word. Cordelia Potgieter is nog ‘n jong kunsntenaar wat sommer binnekort ‘n deurbraak gaan maak met die temaliedjie van die rolprent Hartsbegeertes. Sy het die volgende snit, As ek dink aan jou, geskryf. Nog ‘n opkomende kunstenaar wat ‘n bydrae tot die album gelewer het, is die voormalige Idols-naaswenner Munro. Sy eerste album is onlangs ook uitgereik, maar hy het Vyfde element vir Amoré geskryf. Warren Elliott se debuutalbum het al ‘n aantal jare gelede verskyn, en ;n mens weet nie wanneer hy weer ‘n CD gaan vrystel nie. Intussen het hy ‘n baie goeie Engelse snit, Promise me lies, geskryf. Miskien sal dit die deurbraak wees wat sy nodig het.

Foto’s is nog ‘n komposisie van Anton Botha, en weer eens is dit ‘n moontlike treffer. Lekker by die see, geskryf deur Tony Ridgway, is reeds ‘n treffer en hier sing die revuegroep van die Hoërskool Dr. E.G. Jansen in Boksburg saam met haar. Dis maklik om te verstaan hoekom sy hulle gekry het om dit saam met haar te sing, want dit is ‘n lekker saamsingliedjie. Amoré vergeet beslis nie wie vir haar die talent gegee het om te sing nie; met Rudi Muller se komposisie Kettings gee sy eer aan die Here. Die perfekte tyd is nog ‘n uitstekende snit wat Anton Botha vir haar geskryf het. Die volgende twee snitte, albei geskryf deur Tony Rogdway, kan nie verder van mekaar verskil nie. Stand sluit aan by Kettings, en is nog ‘n snit tot eer van die Here. Die Cantare-kinderkoor sing saam met haar, en dit maak dié snit iets baie besonders. Partie in ons taal is die teenoorgestelde; dit is ‘n lekker vrolike snit wat ‘n groot treffer behoort te word.  Die titelsnit sal byval vind by enigiemand wat al ‘n vakansieromanse gehad het. Die laaste snit is ‘n baie mooi opname van die country-vrouegroep The Dixie Chicks se treffer Wide open spaces. Amoré kan country baie goed sing, en ‘n mens sal wil hoor dat sy dit meer gereeld doen.

Daar is geen twyfel dat Amoré ‘n uiters talentvolle en veelsydige sangeres is wat die potensiaal het om baie gewild te word nie. Daar was al twee treffers vanaf dié album, en daar behoort baie beslis meer te wees. Die enigste probleem is dat sy dalk met Amor Vittone verwar sal word. Aan die ander kant is Amoré baie meer geloofwaardig as wat Amor ooit sal wees, en sy sal baie beslis haar plek in die Afrikaanse musiekbedryf kan volstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.