Devon Jay Scott stel ‘Rubies in my hand’ vry

Devon-Jay-Scott-Rubies-in-my-handDevon Jay Scott, wat sedert 2002 in die musiekbedryf is, het pas sy splinternuwe album, Rubies in my hand, bekendgestel.

Devon vertel dié kontemporêre album het pop-, rock- en selfs gospel- en alternatiewe musiekinvloede. “Ek het saam met produksieregisseur Stass van Stass Music gewerk. Ons het saam na ʼn nuwe Devon-klank gesoek,” vertel Devon. “Ek dink ons het goed gedoen – van jonk tot oud kan na die album luister.”

Hy sê hy het die titel Rubies in my hand gekies, omdat dié snit op die album vir hom spesiaal is. “Dit gaan oor familiebande of enige iemand met wie jy ʼn hegte band het. Die liefde wat jy vir hulle het, is ʼn robyn. Natuurlik is ʼn robyn ʼn kosbare ding. Vir daardie persoon gee die liedjie ʼn boodskap. In my geval is dit my vrou en my kinders,” sê Devon.

Vir Devon is dit baie belangrik om positiwiteit uit te straal deur sy menswees en sy musiek. “Mense voel jou energie aan. Daarom is dit belangrik om dit uit te straal.”

“Elke liedjie op die album het ʼn ander betekenis,” sê Devon. “Ek probeer met elke liedjie iets anders vasvat. ‘120 km/h’ is byvoorbeeld net ʼn lekker pret-liedjie.”

Dit is Devon se vyfde vollengte album. “Op die vorige albums het ek liedjies gesing wat ek wou, maar op hierdie album het ons liedjies geskryf wat vir my bedoel is,” vertel Devon. “Dié album is ék. Hierdie album is my trots.”

Rubies in my hand is by alle groot musiekhandelaars beskikbaar, asook digitaal op iTunes. Besoek Devon se webwerf of Facebook-blad vir meer inligting oor sy opkomende vertonings.

Luister na sy volle onderhoud met Janie du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

vicky ·

Devon Jay Scott
Ek is mal oor jou musiek, jy mag maar, want jy kan. Maf jy nog ver gaan met jou musiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.