Die Heuwels draai die horlosie terug met nuwe enkelsnit

Die Heuwels Fantasties.

Dis tien jaar vandat Heuwels Fantasties se klanke die eerste keer oor Suid-Afrika se radiogolwe gespoel het. Die groep wat sy ontstaan in Napier, in die Overberg, gehad het, was gou ʼn gunsteling van studente en by musiekfeeste en het sedertdien nie net in Suid-Afrikaners se harte gekruip nie, maar vir hulle ʼn nis in die oorsese mark gekerf.

In teenstelling met hulle ander albums, wat futuristiese elektronika in luisteraars se ore gepomp het, gaan hulle nuutste snit, “Jy stel my teleur”, amper 30 jaar terug in tyd. “Bietjie ‘Michael Learns To Rock’ vibes…love dit,” het een aanhanger op hul Facebook-blad geskryf toe die groep die enkelsnit vrygestel het.

Dink Die Heuwels Fantasties hul nuutste enkelsnit klink soos die Deense groep, wat in die ’90’s koning gekraai het op plaaslike radiostasies met treffers soos “Paint my Love”? “Dit doen nogal,” lag Hunter Kennedy, liedjieskrywer en kitaarspeler in die groep.

Die klanke van die nuwe lied is effens rouer, met Kennedy en baskitaarspeler Fred den Hartog wat die leisels neem. Pierre Greeff, die voorsanger, word eers in die koor gehoor. “Fred het ʼn Engelse lied opgeneem en dit was in die styl van ʼn ’90’s boy band. Ons het dit deurgevoer na die lied. Dis eintlik maar so tong in die kies tribute aan MLTR en aan musiek uit daardie era.”

Die video, in swart en wit, is ook rou. “Dit was ʼn baie introspektiewe lied en video. Dis ʼn tema wat mens nie baie hoor in musiek nie en dis interessant, baie mense voel daai gevoel daagliks, maar weet nie hoe om hieraan uiting te gee nie.” Die lirieke, verduidelik Kennedy, is nie vir een spesifieke persoon of groep bedoel nie, maar vleg so tussen ʼn gesprek in ʼn verhouding en ʼn gesprek wat jy met jouself sal hê.

“Ons het ook probeer om weer ʼn grappige element in die musiekvideo in te bring, om die somber atmosfeer te lig.” O, soos toe Fred aan die einde van die musiekvideo geval het? “Dit was ek!” lag Kennedy.

Het die nuwe album al ʼn naam? “Mejuffrou Sonneblom,” spot Kennedy en verklap dat dit een van die volgende enkelsnitte is wat Die Heuwels gaan vrystel. Ook dié naam sal dan wegbeweeg van die groep se tradisie om sy albums na gesegdes te vernoem. Hierdie sal die groep se sesde album wees, na titels soos Wilder as die Wildtuin, Alles wat Mal en Ja. Nee. Lekker. “Pierre het dit voorgestel, maar dit kan enige tyd weer verander. Ons sal nog sien.”

Kennedy sê dat die nuwe album, wat so om en by ses of sewe snitte sal ophê, nie heeltemal in dieselfde styl as “Jy stel my teleur” gaan wees nie. “Dit wissel maar af. Dit voel vir my of ons so half als wat ons van Okay! af geleer het, geskaaf het en verbeter het. Dis net Die Heuwels wat dié klank kan doen.”

heuwelsDie groep is ook buigsaam en ʼn mens sal, buiten Greeff, amper nooit dieselfde gesigte op die verhoog sien nie. Elkeen van die groeplede het, buiten om musiek te maak as Die Heuwels Fantasties, hulle eie ding aan die gang. “Ons kap maar net daardeur. As die een ou dit nie kan maak nie, kry ons net iemand anders. Pierre moet maar net altyd sing.”

Hiram Koopman, die groep se saksofoonspeler, is dikwels op toer met Jeremy Loops, Sheldon Yoko, die groep se tromspeler slaan ook die dromme vir Francois van Coke, Kennedy speel steeds in Fokofpolisiekar, Greeff speel in Lukraaketaar en bestuur die Liefde by Die Dam-konsert, en Den Hartog bestuur The Nothing Club Studio, waar hy musiekregisseur speel.

Die Heuwels Fantasties het in dié studio belê en kunstenaars soos Steve Hofmeyr en Kurt Darren was al oor hulle drempel.

As daar een kunstenaar in Suid-Afrika is saam met wie Die Heuwels nog wil optree, is dit Theuns Jordaan. “Ons het hom ontmoet en lekker saam gekuier. Ons sal definitief saam met hom wil sing en ook weer die Soweto Gospel Choir.” Die groep het voorheen al saam met Afrikaanse legendes soos Laurika Rauch en Coenie de Villiers liedjies opgeneem.

Die groep beoog om hulle nuwe album by die Liefde by die Dam-konsert op 16 November by die Meerendal-wynlandgoed in Durbanville, Kaapstad, bekend te stel.

Wat is die een lied wat weer en weer by konserte gespeel moet word? “Definitief ‘Leja’,” sê Kennedy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.