Die Heuwels Fantasties ‘herverbeel’ treffers vir nuwe album

Die Heuwels Fantasties. (Foto: Schalk Hanekom)

Ondanks ʼn onsekere jaar vir kunstenaars wêreldwyd weens die Covid-19-pandemie het die musiekgroep Die Heuwels Fantasties pas hulle derde album in 2020 uitgereik.

Die jongste album, Herverbeel, volg kort op die hakke van 2021, wat in Mei vanjaar tydens vlak 4 van die inperking uitgereik is en die album 2021: Live in Lockdown, wat in Augustus die lig gesien het.

Met Herverbeel takel die groep nuwe verwerkings en akoestiese weergawes van hulle treffers, sowel as unieke samewerkings met verskeie kunstenaars. Die idee was om deur ʼn nuwe bril na hulle bestaande liedjies te kyk.

Gunsteling-treffers word op die kop gedraai met verfrissende produksiestyle. Tresor, Tarryn Lamb, Laudo Liebenberg, Ampie, Die Krefies, Loki en Margot Rothman en die 19-jarige Chxrl het almal deel aan die nuwe album.

ʼn Splinternuwe enkelsnit getiteld “Hardloop weg” is ook saam met die nuwe album uitgereik en het vandeesweek die Maroela Media Afrikaanse Top-20 betree. Pierre Greeff, voorsanger van die groep, vertel dat hy die liedjie een oggend 03:00 op sy selfoon geskryf het.

Die omslag van ‘Herverbeel’.

“Ek en Fred het daarna die lied eintlik baie gou aanmekaar gesit. Ek kan op my een hand tel wanneer die skryfproses deur die jare só maklik gebeur het en gewoonlik is daardie nommers nogal spesiaal. Dit voel ook, bygesê, soos ʼn lied vir hierdie tyd waarin ons nou leef. Ons hoop mense voel dit ook.”

Volgens Hunter Kennedy was die verwerking van bestaande liedjies ʼn goeie manier om weer die kollig op ou Die Heuwels-treffers te laat val.

“Ons het natuurlik nie tydens die inperking getoer nie en dit het dus soos die perfekte tyd gevoel om Herverbeel aan te pak. Dit was vir my ʼn redelike maklike proses, want die lirieke is darem reeds geskryf. Ek is opgewonde oor baie van die samewerkings. Die verskillende vervaardigers het daarin geslaag om die liedjies soos nuwe liedjies te laat klink.”

Hy vertel dit was op sy emmerskoplysie om saam met die kunstenaar Tresor te werk. Hy is te hoor in die verwerking van “Shangri-la”.

“Margot se ‘Mej. Sonneblom’ is uitstekend. TJ Terblanche het weer eens ongelooflike werk gedoen in ‘Verwag my terug’ en Ampie en Murray Lubbe se weergawe van ‘Ons moet leef’ voel soos ʼn ou classic, maar ook heeltemal anders. Almal wat saamgewerk het aan die album het uitmuntunde werk gelewer.”

Ander bekende treffers wat in Herverbeel te hoor is, is “Beloofde land” saam met Richard Onraet, “Sy” saam met Danny Smoke en ʼn nuwe akoestiese weergawe van “Leja”.

ʼn Musiekvideo vir “Hardloop weg” is ook onlangs uitgereik en het reeds meer as 15 500 trefslae op YouTube. Hugo Brand het die regie behartig. Die aktrise Rolanda Marais is ook in die video te sien.

Herverbeel is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Hardloop weg”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.