Die Heuwels Fantasties oor ‘LED Liefde’ en die lewe


Die Heuwels Fantasties (Foto: Facebook)

Die Heuwels Fantasties (Foto: Facebook)

Bekyk jy hulle so op ʼn afstand, sien jy ʼn musiekgroep: Daar is die kepse, die skinny jeans, die koel hare en natuurlik die aura – eienskappe wat jy sou verwag van ʼn suksesvolle musiekgroep. Daar moet mos iets wees wat hulle laat uittroon bó die gewone mens, iets kunssinnig of ongewoon wonderliks wat die aanhangers by duisende na konserte kan trek.

Dít alles is Die Heuwels Fantasties – ʼn groep wat jy met groot gemak kilometers ver kan uitken; aan hulle kenmerkende styl, ja, maar ook aan hulle talent.

Dit sal egter ʼn groot fout wees om die groep op sy baadjie te takseer.

Dié manne het al talle toekennings ingepalm, waaronder Samas en MK-pryse. Dan is daar natuurlik ook die temaliedjie vir Ballade vir ʼn enkeling en liedjies soos “Klein tambotieboom” wat onlangs deur Laurika Rauch opgeneem is.

Nou is hulle terug met ʼn nuwe album wat vroeg volgende jaar op winkelrakke sal wees. Die eerste enkelsnit daarvan, “LED liefde”, is reeds uitgereik.

Agter dié liedjie skuil ʼn “diep betekenis”, vertel die groep.

“As ons op die pad is dan sien ons ons mense net op ons selfoonskerms. LED-liefde is hartseer, ook vir mense wat Kersfees nie naby hulle geliefdes kan wees nie. Dit verwys na die digitale era en ons wat met behulp van digitale toestelle in verbinding met ons geliefdes bly,” vertel hulle.

Die groep, wat hulle eie musiek skryf, vertel musiek behoort ʼn boodskap oordra, en dis presies wat hul jongste enkelsnit doen. “Ons kom gewoonlik bymekaar en kyk wat daar uitkom. Die funksie van ons musiek is om met ander mense te kommunikeer en om ander te help om hulself te verstaan. Op die ou end is ons as mense baie dieselfde, en ons wil hê mense moet assosieer met ons musiek.

“Met die skryf en opneem van die liedjies het ons elke liedjie op sy eie meriete aangepak. Elke liedjie is ʼn eiland op sy eie, hoewel die liedjies saam in ʼn album leef,” sê hulle.

Sewe jaar is maar ʼn kort tydperk in die musiekbedryf en daar volg nog baie musiek, vertel hulle. “Musiek is lekker. Ons speel wanneer ons op die verhoog is, en dis ons passie. Dis die wonderlikste ding in die wêreld.

“Liedjies is vir ons soos om foto’s te neem van ʼn spesifieke tydstip of gebeure. Ons musiek weerspieël baie van onsself – en dis dieselfde met dié album. Ons lewe deur ons musiek en probeer met musiek dinge rondom ons verstaan.”

Die groep beplan om vroeg volgende jaar met die nuwe album te toer. “Ons wil die ‘gate’ in die kleiner dorpies besoek. Hierdie keer gaan ons lekker partytje hou met die album.”

Vir meer inligting, besoek Die Heuwels Fantasties op Facebook.

Laai ook “LED liefde” op iTunes af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

liza ·

o my…. hulle is cool…..sing kan hulle……daardie song van hulle ‘Ballade vir ‘n enkeling’ ek luister hom oor en oor en oor en oor, so mooi song…… sterkte vorentoe met julle musiek ouens….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.