Die Heuwels Fantasties praat oor jongste album

Die Heuwels Fantasties (Foto: Facebook)

“Ballade vir ʼn enkeling” en “Klein tambotieboom” is maar enkele van die treffers wat die gewilde Afrikaanse musiekgroep Die Heuwels Fantasties sonder twyfel een van dié suksesvolste, bekroonde groepe in Suid-Afrika gemaak het.

Nou het dié groep pas hul jongste album, Okay!, uitgereik en vertel dié album is vol simboliek wat baie van die groep se persoonlike ervarings en lewenslesse weerspieël.

“Ons hou van die eenvoud van die woord oukei,” vertel hulle. “Ons het êrens gelees dit is een van die mees herkenbare woorde wêreldwyd – oral waar jy kom weet mense in verskillende tale byna altyd wat oukei beteken. Ons assosieer ook die woord met ʼn positiewe betekenis en dit is presies wat ons wou wees met ons jongste album: positief.”

Dié album is allermins ʼn konsep-album, keer hulle vinnig. Die positiewe simboliek van oukei is toonaangewend, maar die liedjies op die album dra almal verskillende baadjies. “Met die skryf en opneem van die liedjies het ons elke liedjie op sy eie meriete aangepak. Elke liedjie is ʼn eiland op sy eie, hoewel die liedjies saam in ʼn album leef,” sê hulle. “Daar is ʼn natuurlike vloei in die album, maar elke liedjie vertel iets ʼn ander storie. Die album is oor 12 maande geskryf, en selfs tydens die skryfproses het ons musieksmaak gediversifiseer.”

Vir dié groep is liedjies soos om foto’s te neem van ʼn spesifieke tydstip of gebeure. Die “foto’s” weerspieël dan in wese baie persoonlike gebeure deur simboliek – en dis dieselfde met dié album.

“Ons lewe deur ons musiek en probeer met musiek dinge rondom ons verstaan. In hierdie album wou ons met minder woorde meer sê. Ons wou hê die musiek moet emosies oordra en aanwakker by mense. Die lirieke hoef selfs nie eers sin te maak nie, dis die emosies wat moet saampraat.”

Die eerste enkelsnit in die album, “LED liefde”, het baie positiewe terugvoer gekry.

Agter dié liedjie skuil ʼn “diep betekenis”, vertel die groep.

“As ons op die pad is dan sien ons ons mense net op ons selfoonskerms. LED-liefde is hartseer, ook vir mense wat Kersfees nie naby hulle geliefdes kan wees nie. Dit verwys na die digitale era en ons wat met behulp van digitale toestelle in verbinding met ons geliefdes bly,” vertel hulle.

ʼn Volgende enkelsnit, “Koeëlbaai”, is ook tans op verskeie radiostasies se speellyste te hoor.

“Koeëlbaai is ʼn spesiale liedjie vir ons. Janine Neethling het die klavier meesterlik bespeel en sodoende vir ons die standaard verhoog. Dit is ons almal se gunstelingliedjie op die album. Dit vat ons manifes vir die album goed saam. Eenvoud. Ongerepeteerde emosie. Organies. Daar is ook ander vlakke aan die liedjie en gaan dit oor versoening, oud raak en aanhou, al voel dit asof alles ineenstort.”

Die groep beplan om vroeg volgende jaar met die nuwe album te toer. “Ons wil die ‘gate’ in die kleiner dorpies besoek. Hierdie keer gaan ons lekker partytjie hou met die album.”

Okay! is beskikbaar in musiekwinkels landwyd of op iTunes. Vir meer inligting besoek Die Heuwels Fantasties op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.