Die Heuwels Fantasties slaggereed vir die somervakansie

Die Heuwels Fantasties. (Foto: Liam Lynch)

Die Heuwels Fantasties. (Foto: Liam Lynch)

Die Heuwels Fantasties, wat tans die negende plek beklee op Maroela Media se Afrikaanse Top-20 met hul nostalgiese snit “Jy stel my teleur”, is nou slaggereed vir ʼn sorgvrye somervakansie met hul jongste twee enkelsnitte, “Mejuffrou Sonneblom” en “Doin’ it right”.

“Doin’ it right” is die groep, wat reeds die afgelope tien jaar ʼn voorloper in alternatiewe Afrikaanse musiek is, se eerste Engelse enkelsnit, terwyl “Mejuffrou Sonneblom” ʼn 90’s‑aanslag het wat die bruingebrande litte van menige Heuwels-aanhangers op die Desembervakansiestrande behoorlik los sal maak.

Dié twee snitte is sommer so saam-saam uitgereik. Hunter Kennedy, liedjieskrywer en kitaarspeler in die groep, sê “Mejuffrou Sonneblom” laat hom dink aan ʼn “somerbries-swembadpartytjie”.

“‘Mejuffrou Sonneblom’ is ʼn wipwarit van emosies wat jou kop laat wip tussendeur die 90’s se cinema beats en Hunter se masjiengeweer-lirieke,” sê baskitaarspeler Fred den Hartog.

“Nostalgie en Suid-Afrikanismes is weereens die temas wat voorkeur geniet in hierdie splinternuwe klank vir Die Heuwels Fantasties.”

Die Heuwels Fantasties. (Foto: André Badenhorst)

Die Heuwels Fantasties. (Foto: André Badenhorst)

“Doin’ it right”, saam met die Namibiese kunstenaar en vriend van die groep, Pierre Pressure, is vroeër vanjaar by Sunset Studios in Stellenbosch opgeneem.

“Hy is baie vernuftig met die produksie van dansmusiek,” sê Den Hartog. “Ons hou baie van wat hy met die liedjie gedoen het. Met Pierre Pressure agter die knoppies, het ons seker gemaak die ritme skop agter die melankoliese liefdeslied-melodieë en lirieke.”

Die musiekvideo vir “Mejuffrou Sonneblom” is Woensdag vrygestel en het reeds bykans 23 000 trefslae op YouTube.

ʼn Vollengte album word vroeg volgende jaar uitgereik. Intussen sal dié somertreffers uitgevoer word tydens die groep se Desember Kustoer Joligheid:

Hier is die toerdatums:

26 Desember: Jolly Dolphin, JBay Rocks.

27 Desember: The Stables, Stilbaai (met Jack Parow, Early B en meer).

31 Desember: Van Riebeeck–stadion in Mosselbaai (met Jack Parow, Early B en meer).

“Mejuffrou Sonneblom” en “Doin’ it right” kan afgelaai word op alle digitale musiekplatforms.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.