Die Heuwels, Melktert se Lucinda dié naweek aanlyn te sien

Die Heuwels Fantasties. (Foto: André Badenhorst)

“Ons is opgewonde om vir die eerste keer ons album met ʼn volledige, regstreekse vertoning aanlyn te doen.”

Só sê Pierre Greeff, hoofsanger van die groep Die Heuwels Fantasties, wat Saterdagaand hul splinternuwe album, 2021, aanlyn vrystel. Gaste soos Francois van Coke, Tarryn Lamb en Jack Parow sal ook tydens die vertoning te sien wees.

“Ons is opgewonde dat enigiemand kan inskakel van enige plek in die wêreld af! Dit gaan ʼn treat wees!” sê Greeff.

Die nuwe album bestaan uit 15 nuwe snitte en is opgeneem by Sunset Recording Studios in Stellenbosch. Die groep is al langer as ʼn dekade deel van die Suid-Afrikaanse musieklandskap en Greeff sê dat hulle met elke album wat uitgereik word, hulle eie tydstip en progressie probeer vasvang.

2021 het dalk ook ʼn bietjie van ons selfgetitelde debuutalbum se energie, maar ook ʼn titsel ‘wilder as die wildtuin’. Ek dink nie ons het noodwendig iets heeltemal nuut probeer nie, maar ons het wel probeer om dit wat al voorheen van ons af gehoor is, dalk te verfyn en te vereenvoudig,” sê hy.

Verskeie kunstenaars, soos onder meer Arno Carstens, Johnny de Ridder, Ampie, TJ Terblanché, Pierre Pressure, Tarryn Lamb, Jack Parow en Francois van Coke, is ook op die album te hoor.

“Die kunstenaars met wie ons saamgewerk het, het 100% gegee. Al wat ek kan sê is dat dit moeilik is om ʼn gunsteling op die album te kies. Elke liedjie het uitgekom presies soos ons dit wou hê en ons kan nie wag om dit met almal te deel nie.”

Die omslag van Die Heuwels Fantasties se jongste album, ‘2021’. Die skildery is deur Michael Amery.

Fred den Hartog vertel meer oor die gevoel van die album: “2021 het ʼn doen jou eie ding, wees uniek, wees jouself, ons is almal een, bring jouself na die party tipe aanslag. Met liedjies soos ‘Min worries’ en ‘Ons moet leef’, het ons probeer om die hede, die verlede en die toekoms te verbind in een algehele gevoel van selfbewustheid en ʼn sterk sin van menslikheid en empatie.

“Ons kuns is om ander in te sluit. Eenheid in plaas van segregasie. Juis die talle collabs. En collabs regdeur die proses. Van komposisie tot produksie en optrede. Wat dié een anders maak, is dat die album voltooi is in die tyd van afsondering. En die pylvak is waar alles bymekaarkom. Juis die oordrewe en amper oorweldigende gevoel van mense-verlange en samesyn. Die titel 2021 is `ʼn projeksie van hoop, dat die lewe weer volgende jaar makliker sal kan voortgaan,” sê Den Hartog.

Die vertoning is op Saterdag 30 Mei om 20:00. Kaartjies kos R150 en is hier beskikbaar. Saam met elke kaartjie word die nuwe album gratis aangestuur.

1 WEEK om te gaan! Hier is ‘n voorsmakie van wat julle kan verwag met die LIVESTREAM LOCKDOWN Launch.. ???? Kaartjies by www.DieHeuwels.co.za????% LIVE Link in bio ook. ❤️ Watse songs wil julle hoor? Laat weet in die comments..

Posted by Die Heuwels Fantasties on Sunday, May 24, 2020

Op Vrydag 29 Mei om 20:00 is Lucinda Neethling van Die Melktert Kommissie aan die beurt met ʼn intieme aanlyn vertoning waarin sy die room van dié groep se talle treffers sing.

Lucinda Neethling van Die Melktert Kommissie is Vrydag 29 Mei in ‘n aanlyn vertoning te sien.

“Ek is nie altyd vreeslik aktief met tegnologie nie, maar ons sou in Maart vanjaar ʼn konsert saam met Klopjag aangebied het. Ek het net besef hoe baie ek dit mis om te speel en wou graag iets doen,” vertel Neethling.

Sy vertel haar medegroeplede, Jean-Marie Vlok-Korff, Jan-Adriaan Korff en Tim van der Westhuizen, woon almal in die Kaap terwyl sy in Johannesburg is, en daarom het sy die vertoning op haar eie aangepak.

“Ek wou ʼn unieke vertoning lewer en John-Henry Opperman van die groep Klopjag se maatskappy, The Media Farm, het my hiermee gehelp. Die vertoning is baie rou en intiem. Dit is net ek, ʼn kitaar en ʼn paar kerse. Ek sing ook net Melktert-liedjies, behalwe ‘Engele Kom’ wat ek soms in live shows doen. Ek gaan ook stories vertel van waar die liedjies vandaan kom en waaroor dit gaan,” sê Neethling.

“Ek sing omtrent 13 liedjies in die vertoning – alles ou heel eerste liedjies tot en met die jongste snit, ‘Irrelevant’. Die Melktert Kommissie word in September 18 jaar oud en ek wou net nie ophou speel nie. Ek wou nie hê September moet kom en dan het mense lank terug ons musiek geluister nie, so dit was vir my belangrik dat ons ʼn bietjie sing, al is dit aanlyn.”

Sy vertel dit was met tye ʼn nostalgiese terugblik op die groep se musiek terwyl sy die vertoning opgeneem het. Neethling het in 2002 as 16-jarige skoolmeisie van Jeffreysbaai saam met skoolvriende ʼn musiekgroep gestig om deel te neem aan die heel eerste Jip Rockspaaider-kompetisie, waar hulle uiteindelik as wenners aangewys is.

Met hulle prysgeld het die groep hulle debuutalbum, Volroom, opgeneem. Die Melktert Kommissie is só gebore.

“Dit is interessant, veral as jy so unplugged speel met net ʼn kitaar – dit is hoe die musiek geskryf is. Elke nou en dan het ek net geglimlag, want dit was asof ek weer daardie ou dagboek van my hoërskooldae ontdek en dan kan jy nie glo jy het só gevoel oor hierdie persoon nie,” lag sy.

“Jean-Marie doen altyd sulke akoestiese vertonings saam met my en ek het ʼn rukkie terug ook sonder die groep opgetree, maar toe het iemand saam met my kitaar gespeel. Hierdie was die eerste wat ek heeltemal alleen op die verhoog was, so dit het baie rou en eerlik gevoel.”

Sy lag as sy vertel Opperman en die ander kamerabemanning het vir haar hande geklap tussen liedjies. “Omdat ons nie ʼn gehoor kon hê nie en ook net soveel mense in die spasie kon toelaat, was dit baie stil wanneer ek klaar was met ʼn liedjie. Hulle het toe vir my begin hande klap; so as mense wonder wie hulle hoor juig – dit was die kameraspan!”

Die vertoning is Vrydag 29 Mei om 20:00. Kaartjies kos R80 en is hier beskikbaar. Maroela Media-lesers kan R15 afslag kry deur die promosiekode Maroela te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.