Die Heuwels se nuwe musiek is ‘Okay’

Die Heuwels Fantasties (Foto: Facebook)

Die gewilde Afrikaanse rockgroep Die Heuwels Fantasties gaan op 5 Mei hul splinternuwe album, Okay!, bekendstel.

Dié groep – wat bestaan uit Pierre Greeff, Hunter Kennedy, Fred den Hartog en Sheldon Yoko – vertel agter dié album skuil ʼn “diep betekenis”.

Hulle sê musiek behoort ʼn boodskap oor te dra, en dís presies wat hul jongste album doen. “Ons kom gewoonlik bymekaar en kyk wat daar uitkom. Die funksie van ons musiek is om met ander mense te kommunikeer en om ander te help om hulself te verstaan. Op die ou end is ons as mense baie dieselfde, en ons wil hê mense moet met ons musiek kan assosieer.

“Met die skryf en opneem van die liedjies het ons elke liedjie op sy eie meriete aangepak. Elke liedjie is ʼn eiland op sy eie, hoewel die liedjies saam in ʼn album leef,” sê hulle.

Al vier hul vorige albums het in ʼn kort tyd goue verkoopstatus bereik.

Okay! sluit oorspronklike musiek in, maar die groep het ook kragte gesnoer saam met bekendes soos Valiant Swart, JR en Hanu de Jongh. Daar is ook bydraes van ander musikante soos Janine Neethling (klavier), Adriaan Brand (trompet), Hiram Koopman (saksofoon) en Jannie van die Gereformeerde Blues Band (tuba en tromboon).

“In hierdie stadium voel dit vir ons asof die liedjies op die nuwe album, meer as die voriges, amper apart op hul eie eilande staan, maar tog saam – as ’n geheel – sin maak. Ons wou graag die tydstip waar ons onsself bevind, weergee. Dis amper asof elke musiekalbum soos ʼn fotoalbum is. ’n Mens luister so half terug na hoe jy gevoel het toe jy dit geskryf het. Ons wil graag hê ons musiek moet ’n positiewe uitwerking op die luisteraar hê,” sê Pierre.

Die album word op 5 Mei by Weiveld in Pretoria bekendgestel.  Kaartjies vir die vertoning sluit ʼn album in en kan op iTickets gekoop word.

Die album is ook reeds aanlyn beskikbaar.

Lees meer op Maroela Media en luister die volledige onderhoud oor die groep se eerste enkelsnit vanaf dié album.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.