Dié jong man het net oë vir musiek

Tiaan Massyn. (Foto: verskaf)

“Ek het besef dat ek nie eendag wil terugkyk na my lewe en spyt wees oor die kanse wat ek nie gevat het nie.”

Só sê Tiaan Massyn, ’n oogkundige van Centurion, wat besluit het om ’n kans op sy musiekdrome te waag.

Tiaan (29) se lewe en loopbaan het vir lank in ’n rigting geloop wat vir hom sin gemaak het. Sy prioriteite was anders as vandag, erken hy.

“Ek het hard studeer en hard gewerk om my praktyk op die been te bring. Daar was nie regtig tyd vir enigiets anders nie,” erken hy aan Maroela Media.

Tog het hy in 2020 besluit tot hier toe en nie verder nie, hy sou aangaan met sy werk as oogkundige, maar hy wil nie sy kans verbeur om as kunstenaar in die musiekbedryf te begin werk nie.

Hoewel hy vandag musiek uitreik en trots na homself as sanger verwys, het dié passie nie voor 2020 aan sy deur geklop nie.

“Ek het in die laerskool in die koor gesing, maar dit het nooit verder as dit gegaan nie.”

(Foto: verskaf)

Om ’n kampvuur, bokskitaar byderhand, is waar Tiaan se liefde vir musiek die eerste keer vlamgevat het.

“Ek is op ’n plek in my lewe waar ek iets vir myself wil doen, iets met my liefde vir musiek wil doen.”

Hy het na Jolanda Bekker van Jolanda Bekker Vocal Lab uitgereik om ’n paar musieklesse op die boeke te kry. Tot vandag toe ag hy haar as een van die grootste redes waarom hy vandag ’n loopbaan in die musiekbedryf najaag.

“Sy het iets in my gesien wat ek nog nie gehad het nie. Dis ook sy wat my gemotiveer het om die waters van die musiekbedryf te toets.”

En so het Tiaan se liefde vir musiek begin vloei van die luister daarna, tot die skryf en sing van sy eie liedjies.

Hy beskryf musiek as die plek waar hy rustig en gelukkig is, waar hy kan dink en waar hy kan afskakel in die dolle gejaag van die lewe waarin hy homself bevind.

“Ek is gek oor liedjies wat hoendervleis gee wanneer jy daarna luister.”

Sy jongste enkelsnit, “Die son kom op”, is in die Covid-19-tydperk geskryf en dien as ’n baken van hoop en lig vir dié wat dit nodig het, vertel Tiaan.

In dié tydperk het hy die woorde en melodie vir die liedjie in sy pasiënte se harte en woorde aan hom gevind.

“Pasiënte het by my gehuil. Hulle het stories vir my vertel wat hulle nog nie eers vir diegene naaste aan hulle vertel het nie.

“Daar is pasiënte wat afsprake uit nood gemaak het omdat hulle binnekort hul mediese fonds sou moes staak weens werksverlies.”

Toe hy die liedjie eindelik begin skryf, het die woorde en musiek maklik gekom.

“Ek wou ’n liedjie skryf wat hoop sou bring, waarmee mense sou kon vereenselwig.”

Luister na Tiaan Massyn se “Die son kom op” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.