‘Die katedraal’ – Tobi Jooste

Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Sommige kunstenaars vier hul tiende jaar in die musiekbedryf deur trefferversamelings uit te reik of ’n groot konsert te hou.

Tobi Jooste het egter op iets radikaal anders besluit: ’n optrede in die St. George Anglikaanse kerk in Parktown, Johannesburg. Naas musiek is reis Tobi se belangrikste stokperdjie en hy het veral ’n voorliefde vir Europese katedrale, vandaar die idee om ʼn CD en DVD daar op te neem.

Aangesien daar twee snitte meer op die DVD as op die CD is, konsentreer ek op die DVD vir die doeleindes van hierdie resensie. Die eerste snit is “Suidlandgebed”, op die melodie van Mozart se Klavierkonsert no. 21 se tweede beweging, ook bekend as die temamusiek uit die rolprent Elvira Madigan, met Afrikaanse woorde deur Lize Beekman.

Tobi het ’n mooi verhaal om te vertel oor “Amazing Grace”. Hy het ’n paar jaar gelede alleen gereis en hom in die St. Stephen’s-katedraal in die Oostenrykse stad Wene bevind. Hy het ingegaan en dié bekende lied gesing. Toe hy die derde vers gesing het, het hy sy oë oopgemaak en ’n viool hoor speel. Dit was ’n straatmusikant wat hom hoor sing het en die harmonieë saam met hom gespeel het. Hulle kon mekaar se tale nie verstaan nie en Tobi het maar net sy hand geskud.

Een van die onlangser snitte wat Tobi opgeneem het, is Willie Joubert se pragtige komposisie “Nagmaalslied”, waarmee enige Christen hom- of haarself kan vereenselwig.

Tobi het ook ’n paar gaskunstenaars wat saam met hom optree. Daar is twee weergawes van “Ave Maria” ingesluit. Michelle Veenemans sing Caccini se weergawe. Michelle se ma is die bekende sopraan Barbara Veenemans, en Leonore Veenemans, wat in 1973 in ’n motorongeluk oorlede is en ’n uiters suksesvolle loopbaan in ligte Afrikaanse musiek gehad het, was haar tannie.

Die Jeugsangbundel-keurspel sal almal laat saamsing met liedere soos “Doen slegs U wil, Heer” en “Wat ’n vriend het ons in Jesus” wat ingesluit is. Die tweede weergawe van “Ave Maria” is Schubert se bekende komposisiein en Martin Lane kan hier op die orrel gehoor word.

Tobi beskou die rolprent As it Is in Heaven as sy gunsteling-fliek. Hy het toestemming van die Sweedse komponiste van “Gabriella’s Song” uit dié rolprent gekry om Afrikaanse woorde daarvoor te skryf, en die resultaat is “Begin te leef”.

Ilse-Louise Herholdt kan verskeie instrumente bespeel, onder meer klavier, tjello, fluit en klarinet. In dié weergawe van “Nella fantasia” bespeel sy die saxofoon.

Een van die bekendste snitte op die hele CD en DVD is “Jerusalem” en Tobi sing die Afrikaanse woorde wat Gé Korsten geskryf het. Nóg ’n Christelike lied wat ’n groot gunsteling geword het, is Piet Smit se “Oorwinningslied”. Soos Piet het Tobi ’n basstem en daarom pas hierdie lied baie goed by sy stem. Soos Tobi tereg sê, moet “Onse Vader” met orrelbegeleiding gesing word, en weer eens is dit Martin Lane wat saam met hom optree. Hulle span ook saam vir ’n baie mooi weergawe van Koos du Plessis se bekende “Gebed”.

Rochelle Veenemans is die jongste lid van dié bekende familie, en sy sing “Panis angelicus” saam met Tobi. Daar is geen twyfel dat sy dieselfde hoogtes as haar voorsate sal bereik nie.

Kris Kristoffersen se groot treffer “Why me, Lord?” is ook ingesluit en dit is jammer dat Tobi die eerste vers twee keer sing, eerder as die hele liedjie.

Die laaste snit waarin Tobi gehoor kan word, is ’n keurspel wat bestaan uit “O Heer my God”, “Nader my God by U” en “Ek sien ’n nuwe hemel kom”. Die CD en DVD sluit af met ’n instrumentale weergawe van “Sweef soos ’n arend”, saam met Ilse-Louise Herholdt, Adri Naude-Scholtz en Jeannine Marais.

As jy hou van gewyde musiek, veral dié wat op ’n meer ernstige gehoor gemik is, sal jy aangenaam verras wees met dié CD en DVD. Dié kant wat Tobi wys is een waarvan min mense tot dusver bewus was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.