‘Die lang vrou’ van kabaret oor nuwe projek, album

Petronel Baard. (Foto: Jorina Kriel Maas)

Petronel Baard, die sangeres en liedjieskrywer wat in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf bekend staan as “die lang vrou”, is al 20 jaar lank ʼn gevestigde kunstenaar en bekende in teaterkringe nadat sy in 1999 die ATKV se Crescendo-sangkompetisie gewen het.

Sy vertel sy het nog altyd ʼn voorliefde vir die teater gehad. “As Matie-dramastudent het ek en my vriende ure lank gefilosofeer oor ons passie vir die kunste. Sedert my studentejare is ek nog altyd baie nou betrokke by teaterontwikkeling en is ek by verskillende inisiatiewe en kunsteorganisasies betrokke.”

Baard was die afgelope paar jaar in verskeie aanbiedings en toneelstukke en het die geleentheid gehad om met kunstenaars soos Stef Kruger en Riku Lätti saam te werk.

Sy sonder ook die opname van haar sesde vollengte album, Die heelal draai, uit as een van haar grootste hoogtepunte tot dusver. Dié album is in 2017 uitgereik en word beskou as tydlose wêreldmusiek, folk en kabaret. Dit bied ʼn unieke en verfrissende alternatief vir die gewone style wat in Afrikaanse musiek voorkom.

“Die album kombineer verskeie fantastiese elemente. Fado-musiek is ekspressief en melancholies, wat regtig aansluit by my kabaretstyl. Dit het alles begin met akkerblare: ʼn Vrou uit die Noord-Kaap het my gekontak nadat sy vir jare na my gesoek het. Ek het my interpretasie van haar boodskap getoonset en een liedjie het in ʼn album verander,” deel Baard.

Haar splinternuwe kabaretvertoning, Musiek van die lang vrou: Die heelal draai, sou op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn gedebuteer het. Dié fees gaan egter nie voort nie weens voorkomingsmaatreëls as gevolg van die verspreiding van die koronavirus.

Petronel Baard. (Foto: Jorina Kriel Maas)

“Hoewel die album reeds in 2017 uitgereik is, wou ek dit ʼn langer rakleeftyd gee deur weer lewe daarin te blaas met ʼn nuwe teaterproduksie,” verduidelik Baard.

Sanger, kitaar- en mondfluitjiespeler Schalk Maas en Altan Ungerer, baskitaar-, kitaar- en perkussiespeler en sanger van die groep Soetmelk, en saxofoonspeler Boesman Keyser werk saam met Baard aan dié produksie.

Sedert die uitreiking van haar jongste enkelsnit, “Life is Good”, het die kabaretster van krag tot krag gegaan. Dié liedjie, wat in Oktober verlede jaar uitgereik is, is uitstekend ontvang en het bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies gekuier.

Baard, wat gereeld deur gemeenskapsontwikkeling terugploeg in die gemeenskap, werk ook tans aan ʼn nuwe projek getiteld “Seek the Light” saam met Crystal Blaq Entertainment. Dié snit sal op Werkersdag uitgereik word.

“Die liedjie gaan oor armoede en klasseverdeling. Dit spog met ʼn house– of trans-musiekstyl wat iets heeltemal anders is as waaraan ek gewoond is. Gavin Jay is ʼn uitstekende kletsrymer en die manier waarop ons stemme mekaar aanvul maak die eindresultaat baie interessant,” sê sy.

Baard beplan ook later vanjaar ʼn toer na die Oos-Kaap. “Ons moet besig bly en is heeltyd hard aan die werk.”

Kyk hier na die musiekvideo vir “Akkerblare” van die album Die heelal draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.